Local newsNews

Reddingspoging raak harte

In die dorre Olifantsrivier, was ’n koei vasgevang in ’n moddergat.

In die dorre Olifantsrivier, was ’n koei vasgevang in ’n moddergat. Op Maandag, 7 Maart, het reddingswerk begin na die koei sedert Sondag in ’n moddergat vasgevang was. Me. Marieth Grobler se seun het die koei Sondag middag omstreeks 14:00 opgemerk. Marieth en haar man het intussen probeer om die koei uit te kry, maar hul pogings was tevergeefs.

Mc460-1rs
Water is deur mnr. Albert Holtzhausen aan die koei gegee nadat sy uit die moddergat gehelp is, op Maandag, 7 Maart.

“Ons het nie ’n idee wie se koei dit is nie, en die bandjie op die oor sê net wanneer sy gebore is en die hoeveelste kalfie sy was. Geen verdere inligting is beskikbaar nie en ek weet nie hoe om die koei se eienaar op te spoor nie. Ek het haar tevergeefs probeer uithaal, en toe ons vandag weer daar aangekom het, was die koei steeds in die modder. Ons het daarna besluit om hulp in te kry. Dr. Vernon Rezin het insleepdienste gereël om te help. Die DBV (Diere Beskermingsvereniging) het ook kom help,” het sy Maandag gesê.

’n Band is om die koei gesit, net agter die voorpote, om te verseker dat die koei nie beseer word nie. Mnr. Albert Holtzhausen van ’n plaaslike insleepdiens en sy span, was daar om hul dienste te verleen en om te help met hierdie reddingspoging. Hulle het die band aan die bakkie se kabel vasgemaak en die koei is so uit die modder getrek. Sonder enige beserings, was die koei veilig tot aan die oorkant van die rivier gehelp. Hulle het water aan die koei gegee en besef dat die koei baie swak is, aangesien sy glad nie beweeg het nie. Dit kan klaarblyklik wees, as gevolg van die gespartel om uit die modder te probeer kom.

Mc460-2rs
Die koei het weerloos gelê, sonder krag nadat sy uit ’n moddergat gered is, op Maandag, 7 Maart.

“Ons was Saterdag daar, tot omstreeks 19:00 die aand, aangesien ons ’n staanplek by Wolvekrans Hengelklub het. Ons was daar om die gras te sny en Saterdagaand was daar nog niks. Dit moes gebeur het tussen Saterdagaand en Sondagmiddag,” het Marieth bygevoeg.

“Hy is baie swak, maar het tog begin beweeg,” het Albert Maandag gesê.

Dr. Rezin gaan ’n anti-inflammatoriese inspuiting aan Marieth gee wat die koei heel waarskynlik gaan help.

“As dit in drie dae nie beter gaan nie, gaan ons moet oorweeg om haar uit te sit, aangesien die kanse dat sy gaan regkom en oorleef daarna, baie skraal is,” het dr. Rezin gesê.

Mc460-3rs
Mnr. Albert Holtzhausen het bygestaan en saam die DBV (Diere Beskermingsvereniging) die koei uit die moddergat te red, op Maandag, 7 Maart.

Hy het ook bygevoeg dat die waarskynlikheid van diere wat rondloop in die droë toestande tans, baie meer is, aangesien hulle opsoek is na water. Hy het ook gesê dat aangesien die rivier op hierdie stadium so droog is, dit baie modderig en gevaarlik is vir die diere.

“Ek sien nou dat hier nog ’n trop beeste op pad is na dieselfde plek waar hierdie koei lê,” het Marieth Dinsdag gesê. Ons gee vir haar mielies en die goeie ding is, dat sy darem eet. Ons gee konstant vir haar water ook, en hoop na die kos en drinkgoed en ook as ons die spuit het, dat dit haar sterk sal maak om op te staan. Ek kan nie sien dat ’n dier moet swaarkry nie. Ek kan hulle ook nie net los nie, daarom het ons ingespring en gehelp. Ek hoop sy maak dit, dat sy nie uitgesit sal word nie,” het ook Marieth ten slotte gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button