Man aangeval en beroof

’n Man is onverwags deur rowers aangeval en van sy geld beroof.

’n Man is onverwags deur rowers aangeval en van sy geld beroof.
Op Dinsdag, 2 Februarie, het mnr. Bokkie Liebenberg ’n onbekende bedrag geld by die bank gaan trek.

“Ek was by die bank toe was hulle voor my op my pad uit. Hulle het natuurlik gesien ek het geld in my sak gesteek. Daarna het ek my vrou gaan haal in Francesstraat en ek het die kar gesien, maar gedink dit is ander mense wat ook daar opgedaag het. Toe ek so opkyk, toe kyk ek teen hulle vas. Al wat hulle vra, is ‘where is the money?’ Die man het dit uit my broeksak gehaal en gesê dat hy my gaan doodskiet. Altwee het rewolwers by hulle gehad,” het Liebenberg die gebeure herroep.

“Ek het so opgekyk en gesien die oom stop by die hek, toe maak ek vir hom die klein hekkie oop. Daarna toe sien ek ’n wit kar wat lyk soos ’n Ford Focus of ’n Fiesta stop en twee mans wat uitspring, elk met ’n rewolwer. Maar hulle is so slim, die oom en die rowers het van teenoorgestelde kant af gekom. Hulle het gebukkend na die oom gehardloop en toe is ek dadelik op om die paniekknoppie te druk. Ek is oor die mure na die bure op soek na hulp, aangesien dit net ons drie vrouens by die huis was en dan die oom. Na vele pogings om iemand te kry om my te help, het een van die mense in die buurt by wie ek gaan aanklop het, tot my redding gekom en saam my na my huis gehardloop,” het die eienaar van die huis gesê.

Sy het verder vertel dat sy nie bewus was van die geld wat Liebenberg getrek het by die bank nie, en dat sy gedink het hulle is daar om haar huis te beroof. Sy het die rowers deur die glasdeur gesien aankom en gehoop dat die oom hulle ook agter hom sien, maar hy het nie besef dat dit rowers was nie.

“Hulle kon my huis leeg gedra het, my grootste vrees was net dat hulle ons gaan aanhou en wat is ons teen twee mans met gewere?” het sy vraend gesê.

Nadat die eienaar van die huis die paniekknoppie gedruk het, het die bestuurder van die Ford glo na die kar gehardloop, maar die ander rower wou nog Liebenberg se kar ook vat. Hy het gevra waar sy kar se sleutel is, het ’n ooggetuie vertel.

Volgens die ooggetuies het die voertuig waarmee die rowers gery het, geen nommerplate op gehad nie. “Ek het nogal gekyk om dit af te skryf, maar daar was nie voor of agter ’n nommerplaat nie,” het een van die ooggetuies gesê.

“Soos ek gaan aanklop het by die mense en by my bure vir hulp, het hulle vir my gevra wat hulle moet doen en sommiges het gesê dat hulle nie gaan kom help nie. Dit is verskriklik om te weet jou bure sal jou nie help in nood nie,” het die eienaar van die huis bygevoeg.

“Ek het die rowers agternagesit maar het hulle verloor by die robot by die polisiestasie. Ek het na die verkeerde kant gedraai en hulle het weggekom. Ek was by die bank en hulle het gesê dat hulle op die kamera’s sal kyk vir enige leidrade en daar is ’n saak by die polisiestasie ook oopgemaak, so ek wag maar om te hoor,” het Liebenberg ten slotte gesê.

Niemand is beseer in die voorval nie

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version