Planne met OR Tambo in die pyplyn

‘Die pad van die dood’ gaan beveilig word, het mnr. Theo van Vuuren, Munisipale Bestuurder van die Emalahleni Munisipaliteit gesê.

‘Die pad van die dood’ gaan beveilig word, het mnr. Theo van Vuuren, Munisipale Bestuurder van die Emalahleni Munisipaliteit gesê.

Hy het Dinsdag, 2 Februarie erken dat hierdie pad ’n baie groot probleem is.
Daar is niks fout met die pad, volgens wet nie. Maar as gevolg van die padgebruikers wat nie padreëls nakom en ook nie by die spoedlimiet hou nie, moet verdere stappe geneem word het hy gesê.

“Die gereeldheid van ongelukke vermeerder by die dag en so ook die verkeer op hierdie pad. Padgebruikers toon ’n duidelike vermindering in respek vir die pad en ook die reëls, en dit geld vir ligte- en swaarmotorvoertuie,” het hy gesê.

Hy het ook gesê dat dit nie ’n eenvoudige taak is om die pad veiliger te maak nie.

“Aangesien die korrekte padtekens op die pad is, lei die pad in homself nie na gevaar nie, maar weens padgebruikers lei dit, soos ons sien, na baie gevaar en ook na die dood. En spoed maak dood, dit sien ons gereeld,” het Van Vuuren verder gesê.

Hy het bygevoeg dat die opsies om die pad te beveilig baie beperk is. Spoedhobbels kan nie hier opgesit word nie as gevolg van die aard van die pad, alhoewel baie mense aanvra daarvoor.


Die bakkie wat in die ongeluk in OR Tambostraat betrokke was Woensdag, 27 Januarie.

“Wetstoepassing is nog ’n opsie, maar as die voertuie langs die pad staan wat deur verkeersbeamptes afgetrek word, kan dit ook gevaarlik wees, veral omdat voertuie so vinnig ry. Spoedkamera’s is nog ’n opsie, maar die kamera’s word beskadig soos gesien in die res van ons stad en die kostes van hierdie kameras is ook baie hoog. Dit maak dit dus nie ’n onmiddellike opsie om te oorweeg nie,” het hy verder verduidelik.

Hy het gesê dat om niks aan hierdie pad te doen nie, nie ’n opsie is nie. Hy sê ook dat bestuur ingestem het om ’n eksperiment te doen wat in ander gevalle bewys het dat dit ’n duidelike impak op padgebruikers het.
Spoedverminderingsstroke (rumble strips) is volgens Van Vuuren ’n moontlike oplossing wat op hierdie stadium toegepas gaan word.

“Dit sal deur die tegniese direkteur van gemeenskapveiligheid direktoraat ingestel word in die nabye toekoms. Dit sal op strategiese plekke op die pad opgestel word, regoor die lengte van die pad. Hierdie stroke sal ’n spesifieke hoogte hê, wat voertuie sal dwing om stadiger te ry en dit sal ook die voertuie se spoed verminder. Hiermee sal dit dan ook veiliger wees om in en uit hierdie straat, vanuit die systrate te draai,” het Van Vuuren verder gesê.

Hy het verduidelik dat hulle dan daarna die voorvalle en sukses van hierdie pad sal monitor en dan verdere veranderings maak, indien nodig. ’n Aankondiging sal gemaak word deur die tegniese direkteur waarna hierdie proses sal begin.

In die mees onlangse ongeluk op Woensdag, 27 Januarie het twee susters, mee. Berna en Yolandè de Beer met ’n ander voertuig gebots. Beide is in die hospitaal opgeneem.

Berna de Beer het haar ribbes gebreek en ook haar borsbeen seergemaak.

“Sy moet dit rustig vat, want die dokters is bang die ribbes steek deur haar longe. Sy sien vandag weer die dokter. Sy sukkel ook maar met asemhaling as gevolg van haar beseerde borsbeen. “Yolandè se voet lyk soos ’n opgeswelde pampoen, hulle kon nie op die x-strale sien of haar voet gebreek is nie. Die dokter moet eers wag vir die swelling om te sak en tot dusver is daar steeds geen verbetering aan haar voet nie,” het hulle ma, me. Martie de Beer Dinsdag gesê.

Die ongeluk het plaasgevind toe die susters op pad werk toe was vanaf die ou-Middelburgpad in OR Tambostraat. ’n Mazda Drifter het vanuit Poplar- in OR Tambostraat gedraai en die Ford het teen die Mazda gebots.
Sy het ook bygevoeg dat daar iets aan hierdie pad gedoen moet word.

“Padgebruikers moet beslis meer bedag wees en ten minste net by die spoedlimiet hou. Ek glo die ongelukke sal so ook verminder. Die mense wat op daardie pad ry moet ander net in ag neem. Ons het beplan om verlede Woensdag bietjie te gaan uiteet, aangesien dit Berna se 32ste verjaarsdag was, maar sy het haar verjaarsdag in ’n hospitaalbed deurgebring. Ek werk self met ander mense se kinders en moet hulle by die skole gaan haal en ek vermy OR Tambostraat so ver as moontlik. Mens weet nie of jou kinders en familie veilig by die werk en skole gaan uitkom wanneer hulle die huis verlaat nie,” het Martie bekommerd bygevoeg.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version