Morné en Stephan tuis na bootongeluk

Na 13 dae in ’n hospitaalbed, kon Morné Swanepoel (17) uiteindelik in sy eie bed slaap na die bootongeluk wat hom in die hospitaal laat beland het.

Na 13 dae in ’n hospitaalbed, kon Morné Swanepoel (17) uiteindelik in sy eie bed slaap na die bootongeluk wat hom in die hospitaal laat beland het.


Morné Swanepoel (17) saam met sy ma me. Rene Swanepoel in Eugene Marais Hospitaal ’n paar dae voor hy ontslaan is.

Op Saterdag 23 Januarie is Morné uit die Eugene Marais Hospitaal ontslaan, terwyl sy vriend, Stephan Marais (17), wat ook in die ongeluk betrokke was, verlede week uit Life Kosmos Hospitaal ontslaan is.
Morné is op 14 Januarie oorgeplaas na Pretoria waar die spesialis, dr. Christian Snyckers vier tot ses plaatjies met skroewe gebruik het om al die stukkies van sy bekkenbeen te heg. Volgens die dokter was die operasie ’n groot sukses.

“Ek is baie bly dat hy by die huis is,” het Morné se ma, me. René Swanepoel gesê.

Die ongeluk het op Sondag 10 Januarie by Witbankdam gebeur.
Die tieners het van Barham Bay met die boot gevaar toe die ongeluk gebeur het.

Morné, ’n leerling van die Hoër Tegniese Skool en Stephan ’n leerling van Hoërskool Generaal Hertzog was op ’n binneband en Dominique Boshoff (18), ’n leerling van Hoërskool Generaal Hertzog was in die boot.
Na bewering het hulle deur die kloof gevaar toe die binneband waarop Morné en Stephan was, ’n klip getref het. Die twee seuns is af geslinger.

Dominique het in die water gespring, waar sy Stephan gehelp het tot mediese hulp op die toneel aangekom het.
Morné is op ’n ‘jetty’ gevind waar hy in pyn gelê het.
Dominique, wat ook in die hospitaal opgeneem is, is die volgende dag ontslaan.

Exit mobile version