Gru-ongeluk eis lewe: 24-jarige ma van twee sterf tragies

Een van die seuns wou weet wanneer Jesus hom dan kom haal

Twee klein seuntjies het vroeër die week tevergeefs gewag dat hul mamma huistoe kom.
Die 24-jarige Denise Nolan was Maandag 18 Januarie omstreeks 15:20 in ’n ongeluk betrokke op die Ogies/Bethalpad, wat haar lewe geeïs het.


Die wit Hyundai wat betrokke was in ’n ongeluk op die Ogies/Bethalpad op Maandag 18 Januarie.

Denise was in haar wit Hyundai oppad trug van ’n werksonderhoud na haar ma, me. Elsa Coetzee wat op Kriel Myn werk.
Sy het op die Ogies/Bethalpad stilgestaan om regs by die myn in te draai toe ’n trok het na bewering van agter af gekom en in die Hyundai vasgery het. Met die impak is die kar in die aankomende verkeersbaan ingestamp. ’n Trok wat in die aankomende baan onderweg was van Ogies na Ga-Nala het daarna met die Hyundai gebots.
Denise is op die toneel dood. Die vragmotorbestuurders het geen beserings opgedoen nie, maar beide is vir skok behandel.

’n Persoon wat langs die pad gestaan het, is ook getref deur die Hyundai. Sy het ligte beserings opgedoen en is na Evander Provinsiale Hospitaal geneem.

“Ons het op die toneel gehelp met verkeer beheer en die jong dame wat beseer was gehelp tot die paramedici op die toneel aangekom het,” het mnr. Eric Brown, voorsitter van Sektor 1 van Kriel Gemeenskapspolisiëringsforum, gesê.


’n Brandweerman besig op die toneel Maandag 18 Januarie, waar die 24-jarige Denise Nolan haar lewe verloor het.

Pastoor Nico Coetzer, wat die gesin baie goed ken, het namens die familie gepraat en gesê dat Denise ’n baie aangename persoon was.

“Sy was altyd vriendelik en lief vir almal. Op die stadium het die familie baie seer, veral haar broer Leon vat dit baie erg,” het Coetzer gesê.

“Sy was ’n wonderlike mens, liefdevol en sy was die persoon wat altyd ’n glimlag op haar gesig gedra het,” het haar oom, mnr. Willem van Zyl gesê.

Nolan was ’n enkelouer en sy het by haar ma gebly.

Haar twee seuns, Logan (5) and Wernich (1) het al gevra waar is hulle ma. Pastoor Coetzer en hul ouma moes aan die twee seuntjies verduidelik dat ‘Jesus haar kom haal’ het.

“Een van die seuns wou weet wanneer Jesus hom dan kom haal,” het van Zyl in trane vertel.


Wyle Denise Nolan (24).

Nolan laat haar ouers, broers en susters en haar twee klein seuntjies agter.
Die begrafnis sal op Donderdag 21 Januarie om 11:00 uit die Roepersfontein Bedieninge in Ga-Nala plaasvind.
As iemand inligting oor die ongeluk het, skakel sersant Sam Nkuna van Kriel Polisie: 017 648 4713.

Boodskappe is op Denise se Facebook-blad geplaas:

“Denise… jy was 7 jaar deel van ons, jy laat ’n groot leemte maar ek weet vandag jy is veilig waar jy nou is. Jy sal altyd ’n plekkie in ons harte he.
Elsa Ella Coetzee, my hart huil saam jou want jy het ’n stunning amazing dogter deur al die einas het sy steeds gelag en was sy positief en altyd reg vir wat na haar kant toe gekom het. Ons is daar vir julle asb moet dit nooit vergeet nie. Die Here sal krag gee dat julle sterk kan staan vir daai mooi bulletjie, sy het bja mense se lewens geraak met haar sprankelende persoonlikheid en groooot hart. Dink aan julle en bid vir vertroosting,” het Adri Nel geskryf.

Exit mobile version