‘Geloof het Miané huistoe gebring’

>“Sy wys nog nie volle emosie nie, daar is trane in haar ogies as sy huil maar nog geen geluide nie.”

“Roep jy omhoog tot God die Heer, dan vloei dit uit geloof so vry vanuit jou siel met vreugde bly. Maar roep jy eens uit nood en las vanuit die diepste modderplas, dan spruit dit uit geloof so sterk en deur die Gees wat in jou werk,” lei een van C.J Langenhoven se gedigte.

“Dit kom alles neer op geloof en volle vertroue op Hom,” het Miané se ma, Claudette Ainslie gesê oor die moeilike tyd waardeur hulle is.

Miané het diep in die gemeenskap van eMalahleni se harte gekruip na sy op 9 November byna by haar ouerhuis verdrink het.
Na talle mediese prosedure, tonne gebede en hulp, is sy presies na ’n maand ontslaan en verkeer nou rustig by die huis.


Miané se ma, Claudette Ainslie vertel watter aanpassing dit is vandat sy self na Miané moet kyk, nadat sy ontslaan is. (Foto deur: Samantha Traill)

“Sy is ontslaan maar sy kort nog bitter baie hulp, sy is ’n bietjie moeiliker as ’n pasgebore baba en is letterlik heeltemal afhanklik van ons,” het Claudette vertel, noudat sy die “verpleegster” rol moet vertolk.

Haar ma het ook bygevoeg dat Miané soos ’n slap babatjie is, maar dat haar voetjies, handjies en ogies op tye beweeg.

“Sy wys nog nie volle emosie nie, daar is trane in haar ogies as sy huil maar nog geen geluide nie.”

Volgens die pragtige dogtertjie se familie was dit eers iets om aan gewoond te word toe sy tuis kom, maar vinnig hul voete gevind.

“Ons het roetine gekry en werk in skofte,” het Claudette se regterhand en steenpilaar, Jaconique Heroldt met ’n glimlag gesê.

Miané word nog gevoed deur ’n pyp elke drie ure en moet klokslag 00:00 en 04:00 elke dag gedraai en oefen word, maar kort geen intensiewe hulp meer nie.


Die pragtige Miané Ainslie wat byna verdrink het op 9 November is ontslaan, maar gebede gaan voort.

Claudette is deur die personeel van Kosmos Life geleer hoe om haar te versorg. “Ek weet ek is nie professioneel opgelei om na haar om te sien nie, dus kort ek regtig iemand wat my kan help en raad gee oor Miané se toestand,” het Claudette gesê.

Soos stemme weergalm in die Ainslie’s se voorhuis beweeg Miané se ogies saam met die klanke en stop dadelik by haar ma, terwyl Claudette fluister,

“jy is mamma se engelkind en ruik net hoe lekker ruik jy vandag.”

Haar ma het ook vertel, “sy is in die sewende hemel as sy in die aande by haar ouma en oupa op die bed lê en hulle speel met haar. Die voetjies beweeg en die ogies draai dan.”

Die Ainslie familie sien hierdie gebeurtenis nie as ’n tragedie nie, maar as ’n draaipunt in baie mense, vreemd en bekend se lewe.

“Vreemde mense kontak my om my te vertel hoe Miané se storie ’n getuienis is. Hoe my kind hulle lewe so geraak het in ’n positiewe manier,” het Claudette met ’n krap in haar stem gesê.

Die dokters is tevrede met haar vordering en sê selfs dat daar net verbetering is.

Daar is nog ’n lang en moeilike pad om te stap tot volle genesing vir die Ainslie en Herholdt families.

“Ek weet my kind sal opstaan. Daar is ’n storie in die Bybelboek, Nehemia wat gaan oor ’n muur wat gebou is. Die muur het ongelooflike baie krake en met die mense se geloof het Hy al die krake in daardie muur in 52 dae verwyder.” het Claudette met volle vertroue vertel.

Die familie is op ’n reis van genesing saam Miané en staan bankvas agter mekaar deur dik en dun, “ons hulp en bystand stop nie net by die huis nie, die gemeenskap staan ons by en doen so baie vir my dogtertjie,” het sy met ’n dankbare glimlag gesê.

Die WITBANKNUUS se vorige berig het die gemeenskap in kennis gestel dat Miané se mamma nie medies het nie en dus finansiële ondersteuning en hulp nodig het.

“Dit was ongelooflik om te sien hoe mense help al is dit nie hulle plig nie, die rekening het van meer as R300 000 tot R199 000 gedaal. Daar kom selfs onbekende mense na ons huis toe en skenk speelgoed en melk vir Miané,” het haar ma dankbaar gesê.

Enige iemand wat ’n skenking wil of kan maak vir die hospitaalrekening kan dit direk oorbetaal in Life Cosmos se rekening.

Bankbesonderhede is as volg:
FNB, Life Cosmos Hospital, tjekrekening: 54300040646, takkode 270250, verwysing: 443792 Ainslie. Faks asb bewys van betaling aan: 086 686 8812.

“Ek kan nie genoeg dankie sê vir elkeen se belangstelling, gebed en inset nie. Van die dokters, staf tot die skoonmakers by Kosmos Life, julle sal geseën word. Vir die gemeenskap kan ek net verstom staan met soveel dankbaarheid en waardering in my hart. Baie dankie,” het Claudette ten slotte gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version