EntertainmentLifestyleLocal newsNews

Vakansie in jou eie dorp

Vanjaar kan jy vanaf Woensdag 9 tot Woensdag 16 Desember in jou eie dorp vakansie hou.

Vanjaar kan jy vanaf Woensdag 9 tot Woensdag 16 Desember in jou eie dorp vakansie hou.
Waar? Op die terrein op die hoek van Mandela- en Nitastraat, oorkant Nissan. Waar die vier vlae in blou, rooi, wit en groen wapper, moet jy indraai.

Hoeveel mense mag jy saambring? Soveel moontlik, want toegang is gratis. Jou eetgoed sal min kos, maar die unieke boeke by Louise Bienedell se stalletjie, kos ‘n geldjie.
Op die kampterrein waar sewe ossewaens staan en meer as agt osse daagliks wei, sal Johan Greyling en sy mense jou elke dag vanaf 08:00 inwag en tot 19:30 onthaal. Daar is geriewe en stoele, maar jou eie stoel, sonsambreel en kussing vir lekker-sit, mag jy saambring.

pop1615-2rs

Die aandprogram wat om 17:30 begin, open met ‘n poppekas-vertoning, die aflê van die Gelofte, ‘n saluut, jou eie vleisie op die kole, en lofliedjies en stories om die kampvuur.
Vanaf Woensdag 9 tot Woensdag 16 Desember het elke dag sy eie hoogtepunte. As jy kan, wees elke dag daar – of dan ‘n gedeelte van elke dag, want so ‘n lekkerte mag eers weer volgende jaar opduik, as jy gelukkig is.
Dié Geloftefees van agt dae wat Johan Greyling jaarliks aanbied, is waarskynlik uniek in die land. Die hande is min, die kostes hemelhoog, maar Johan en sy vrou, Olga, volhard blymoedig in volle vertroue dat Vader sal voorsien en dat die mense sal opdaag.

Indien ouers werk, kan jongmense afgelaai word; vanaand braai almal saam en geniet hulle die aandprogram. Oupa kan sy kleinkind bring, of anders om.
Johan brand koffiebone waar jy bystaan. Dan kry jy ‘n beker boeretroos en ‘n boerbeskuit wat jou terugvoer na die Voortrekkers en hul swaarkry-dae.
Die gemmerbier-fabriek is in produksie, soms is daar melktert wat op die kole gebak is, warm brood uit ‘n miershoop en lekker afval.

Die doen-dinge is ‘n ossewa-rit, boeresport, jukskei-gooi, misvloer-smeer , velskoen- maak, rieme-brei, disselboom-kap, potjiekos-kompetisie, mes-smedery, leer-werk en wa-makery (as my wa deur die bosse jaag en ‘n pap wielietjie kry.)
Bring jou familie, nooi vriende of jou kerkraad en benut die geleentheid vir die versterking van onderlinge bande.

Op Saterdag 12 Desember om 16:00 sing Bok van Blerk. Kaartjies kos R100 en is by OK Grocer of by die hek te koop. Bring asseblief jou eie stoel, vir ingeval.

Pop1615rs
Bok van Blerk sing Saterdag 12 Desember op die kampterrein waar jy sewe dae voor Geloftefees reeds kan saamkuier, lekker kan eet en terugdink aan die stoere Voortrekkers.

Neefs en niggies sal om 15:00 tiekiedraai en hul Volkspele-buigings maak.
Saterdag se potjiekos-kompetisie begin vroeg. Kontak Johan Maritz sommer gou by 084 460 6075 .
Op Woensdag 16 Desember begin die Geloftefees om 09:30 in die Portugese saal.

Die tema van ds. Ben Strijdom is: Die Boervolk en sy toekoms. Om 13:00 braai jy jou eie vleisie op die kampterrein en daarna volg die aandprogram.
Besonderhede: Olga 072 641 9271 en Johan 082 7010 652.
Vrugte en groente te koop, gratis stalletjies beskikbaar.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button