‘Dis ons vierde kersfees sonder die kinders’

Hoendersvleis slaan op jou vel uit soos die storie vlamvat, van hoe drie gesinne se lewens onherroeplik verander het.

Hoendersvleis slaan op jou vel uit soos die storie vlamvat, van hoe drie gesinne se lewens onherroeplik verander het.
Op 7 September 2012 is drie jong lewens weggeruk in ’n gru-ongeluk in OR Tambostraat.
Op Donderdag, 10 Desember, het die saak van Lucele Foley (19), Donovan Greef (19) en Marc Bentley (22), in Witbank Landdroshof voorgekom.


Donovan Greef (19) en Lucele Foley (19) wat op 7 September 2012 hul jong lewens in ’n gru-ongeluk verloor het, in OR Tambostraat

’n Man het in die hof verskyn op aanklag van strafbare manslag alternatief roekeloos of nalatige bestuur. Die ondersoek het voortgegaan sedert 7 September 2012.

“Ek het al met so baie mense gepraat. Ek het al so baie energie hierin gesit, maar ek sal nie ophou totdat my siel rus het nie. Iets moet aan hierdie pad gedoen word, en iemand sal iets moet doen,” het me. Yolanda Minnaar, ma van Lucele gesê. “My enigste kind se lewe is weggeruk, en as ek kan voorkom dat dit met ander gebeur, dan eers is my taak voltooi. Baie ou wonde gaan oopgekrap word en ek was meer as een keer gevra of ek wel wil voortgaan hiermee. Die hoofrede hoekom ons hierdeur moet gaan, is om te keer dat dit nie met ander gesinne ook gebeur nie. OR Tambostraat is een van die gevaarlikste paaie in eMalahleni. Ek het so baie bewyse hiervan, waar ek sedert die ongeluk artikels in WITBANK NUUS bymekaar gemaak het. Iets moet aan die ‘pad van die dood’ gedoen word. En vinnig ook, voor nog name op kruise langs hierdie pad geskryf staan.”

Vier gelukkige foto’s van Lucele pronk tussen die dokumentasie wat Yolanda tot dusver opgebou het. Waar die woorde ‘memories’ prominent op die bladsy uitstaan. En slegs dit is wat haar aan die baklei hou.


Marc Bentley (22) wat ook daardie aand in die voertuig was. Sy lewe is ook op 7 September 2012 skielik weggeruk, in OR Tambostraat.

“Hier is my meisiekind. Dit is hoe sy gelyk het,” het sy na die foto’s gewys.
“Die kleinste dinge wat niemand sal verstaan nie, is net hier ‘ingeprint’,” het sy na haar kop gewys. “Die meganiese ingenieur wat die spoed van die twee voertuie bepaal het, het gesê dat Donovan ongeveer 38km per uur gery het. As ek ry, en ek sien die naald is op 38, ry ek vinniger of stadiger. Dan dink ek, die kinders het net hierdie spoed gery.”

Sy het gesê dat dit wonderlik is hoe die Here werk en dat Hy alles net in plek gesit het, die aand van die ongeluk.

“Soos net Hy geweet het hoe. Ek was in die hospitaal, ook maar beter so want ek sou na die ongelukstoneel gery het daardie aand. Die gedagte dat die man waarteen hulle gebots het, in dieselfde hospitaal as ek was daardie aand, het nooit eers by my opgekom nie. Die operasie in my hand het later begin as wat dit moes. As dit op tyd was, sou ek in Pretoria gewees het die aand van die ongeluk,” het sy haar storie vertel.

“Die polisiebeampte het my die aand van die ongeluk gebel en gesê dat ek polisiestasie toe moet gaan. Ek het verduidelik dat dit onmoontlik was, aangesien ek in die hospitaal was. Hy het aangedring en toe ek vir hom sê: ‘moet asseblief nie vir my sê my kind is dood nie,’ het die stilte aan die anderkant ’n duisend woorde gespreek,:” het Yolanda die hartverskeurende aand herroep.

Die tyd na die ongeluk het sy aan als vasgeklou wat daar moontlik was.

“Jy dink aan so baie dinge. Maar die grootste hiervan is, ‘wat as’. Daar is so baie dinge wat almal anders kon gedoen het, al was dit net vyf minute…” en haar woorde het min geraak.

Deur die gesprek het sy na haar enigste dogter verwys as Lucele. Maar hoe verder die gesprek gegaan het, het Lulu die naam geword wat oor haar lippe gedans het.

“Donovan was baie lief vir my kind. Hy was so goed vir haar. Sy het net gewag vir hom om sy matriek te doen, dan sou hulle saam in Pretoria gaan studeer het. Ek weet die hofsaak is die regte ding. Ek weet ek en die ander ouers moet dit doen om berusting te kry,” het sy gesê.

Me. Melanie Greef, Donovan se ma, het gesê dat sy vir Yolanda met alles een honderd persent ondersteun.

“Alles wat sy doen, staan ek agter haar. Sy het al haar tyd hierin gesit, ek was bietjie besig met tye, maar ons veg hierdie sryd saam met haar,” het sy Maandag gesê.

Sy het ook bygevoeg dat sy die hofsaak sal bywoon en dat die meganiese ingenieur wat sy aangestel het, ook gaan getuig as ’n deskundige.


Kerse en blomme het die swart strate opgehelder na die ongeluk plaasgevind het. Lede van die gemeenskap het saam gebid en rou betoon aan Marc Bentley, Lucele Foley en Donovan Greef wat hul lewens op 7 September 2012 verloor het, in OR Tambostraat.

“Ek stem saam dat hierdie pad moet beveilig word. Soveel ongelukke het al na daardie ongeluk plaasgevind en daar word niks aan hierdie pad gedoen nie,” was Melanie se woorde.

Aangesien Lucele se pa in Oos-Londen is, gaan hy nie die hofsaak bywoon nie.

“Maar ek volg elke tree van wat in die hof gebeur,” was mnr. Leonard Foley se woorde.

“Die aand wat ek Lulu se as gekry het, was daar net een ding wat ek die beskuldigde wou afvra: ‘weet jy hoe voel dit om jou enigste kind in ’n kissie te sien op jou eetkamer tafel?” het Yolanda sonder oogkontak gesê.

‘Drivers must learn’ is ook ’n veldtog wat gestig is, met elk van die kinders se voorletters op strikkies. Hierdie is om die mense aan te moedig om stadiger te ry en nie ander se lewens in gevaar te stel nie. Rooi, oranje en wit linte is in ’n strik gemaak en pronk op die skouers van almal wat geraak is deur die dood van Mark, Lucele en Donovan.

Vele petisies is opgestel. Briewe aan hoofde is uitgestuur. Met geen terugvoer, staan Yolanda met ’n hele span agter haar, om so klein leemte in hul harte te vul.

Nadat kontak probeer maak is met mnr. Lebohang Mofokeng, Munisipale woordvoerder, asook met mnr. Theo van Vuuren, munisipale bestuurder, is geen terugvoer ontvang teen druktyd nie. Nadat mnr. Van Vuuren op sy Facebook bladsy aan die publiek gesê het dat OR Tambostraat op sy lys van prioriteite is, is dit steeds nog nie bekend wat presies gedoen gaan word nie.

Exit mobile version