Water sypel strate af, tog moet ons water spaar?

Gebarste waterpype is nie ’n vreemde verskynsel in eMalahleni nie.

Gebarste waterpype is nie ’n vreemde verskynsel in eMalahleni nie.
Mnr. Peet Steenberg is al raadop met hoë waterrekeninge en water wat die strate af stroom waaraan niks gedoen word nie.

Hy het al menige boodskappe aan die Emalahleni Munisipaliteit gestuur rakende hierdie kwessie maar hy ontvang net nie terugvoer nie.

“Elke keer as pype bars, kom maak hulle dit op ’n Sondag reg of na ure. Wat is die rede hiervoor? Is daar ’n rede dat hulle hierdie tye werk? Is dit vir oortyd en dubbeltyd?” was Steenberg se ontstoke woorde.

Hy beweer dat in die afgelope paar maande, het die waterpyp in Walter Battisstraat al ongeveer 20 keer gebars.

“Hy bars nou op een plek, hulle maak hom net so stukkie reg, more bars dit weer waar dit gelas is. En so gaan dit aan. Hulle het my stene uit my oprit gekap om die pype weer te las. Dit is net so gelos. Ek het betaal om dit reg te maak. Die buurman se stene lê steeds so, hulle kap dit uit en so los hulle dit. Ons moet als op ons eie onkoste laat regmaak,” het hy verder vertel.

WITBANK NUUS het in verlede week ’n oproep ontvang en het gaan foto’s neem waar die oop waterpype aan almal vertoon is. Die gat voor die inwoner se erf is vermoedelik self deur die eienaar toegemaak, maar niks kan met sekerheid gesê word nie.

“Ek het ook ’n rekening ontvang van R11 500 vir water wat ek nie eers gebruik nie. Aangesien ek my eie waterpomp deur middel van die boorgat in my erf het, maak ek nie gebruik van die munisipale water nie. Dit het ek ook vir hulle gesê in ’n poging om die ‘agterstallige’ gelde te probeer uitsorteer. Ek het op die einde R5 500 betaal, steeds beweer hulle dat my watermeter loop. Hier stroom miljoene liters water in die pad af, maar hulle wil vir my so groot rekening stuur. Nou praat hulle skielik weer van waterbeperkings wat geimplimenteer moet word. Wat van die water wat in die strate afstroom?” het hy kwessies van kommer gelig.

Volgens Steenberg het die water vir 14 dae aaneen geloop voor die probleem opgelos was.

“Hier het nou weer Sondag en Maandag water geloop in Woltemadestraat. Die water spuit uit en hulle vat hulle tyd om die goed te kom regmaak. Intussen moet die inwoners opdok,” het Steenberg gesê. “Ek het noodnommers geskakel, niemand antwoord nie. Ek stuur sms’e, geen terugvoer. As julle vir ons sê dat daar nommers beskikbaar is wat ons kan gebruik, hoekom werk die nommers nie? Ek wil graag net aan die uwe, mnr. Theo van Vuuren en sy span vra, hoekom word niks aan die probleme in hierdie stad gedoen nie? Het jy flappe aan soos ’n resiesperd of kan jy wyer kyk?”

Nog waterprobleme op die Klarinet-pad het inwoners raadop. In WITBANK NUUS van 25 September ‘So lek die water weg’, word daar berig dat probleme in Klarinet nie opgelos word nie.

“Almal weet hiervan, ek het al met mnr. Van Vuuren gepraat, Ben Botes weet van hierdie probleem, maar niemand doen iets nie. Oor naweke draai die ‘locals’ ons water toevoer toe, en tap water vir hul eie gebruik. Met selfgemaakte pypies en ook laste wat nie baie lank hou nie. Ek het selfs al die bakkie afgeneem wat die pype hier aanbring, met die registrasienommer en als. Ek hoor net niks terug nie,” het een van die inwoners raadop gesê.

Hy beweer dat daar verlede jaar ’n probleem was, dat hulle tot nege dae sonder water was.

“Ek was tot in mnr. Van Vuuren se kantoor, niks help nie. Ek wonder soms of dit nog die moeite werd is om iets te probeer doen. Ek probeer tevergeefs, en dit voel mens wen nie,” het hy bygevoeg. “Die watertoevoer word toe gedraai, dan sit ons vir dae lank sonder water. Ons het water nodig om kos te maak, daar is nie enige ander opsies nie. Maar as die toevoer toe is, wat kan ons doen?”

Na bewering loop die water altyd oor die pad.

“Nadat daar ’n kop-aan-kop botsing was, het dit gelyk of iemand iets doen aan die waterlek. Dit lek steeds,” het hy gesê.


Die oop sloot waar die waterpype gereeld bars in Walter Battisstraat.

“Daardie spesifieke area word gedien deur baie ou asbestos pype wat gaan lei na pypbreuke. Daar is ’n projek aangegaan met Rand Water om al daardie pype te vervang,” het die munisipale bestuurder mnr. Theo van Vuuren gesê.

Volgens Van Vuuren is die aantuiging dat dieselfde pyp al 20 keer gebars het, verregaande.

“Ons eerste prioriteit is om waterlekke reg te maak. Die spanne keer daarna terug om die sypaadjies reg te maak. Dit gebeur soms dat dit nie dadelik gebeur nie. In die spesifieke geval is dit nie gedoen nie en die relevante bestuurder aangesê om dit op te volg,” het Van Vuuren gesê.

Van Vuuren vra dat Steenkamp die munisipaliteit te kontak oor sy rekening omdat daar geen rekeningnommer is wat hulle as ’n beginpunt kan gebruik nie.

“Laastens is my oë oop, ek sien wat in die stad gedoen word. Miskien is die ‘oogklappe soos ’n perd’ nie dié keer op my oë nie,” het Van Vuuren gesê.

Exit mobile version