Local newsNews

Dogtertjie (1) verdrink byna

“Ek was nie eers vyf minute in die huis nie, ek het ingegaan om my selfoon te laai en die gille gehoor"

’n Dogtertjie van een jaar en sewe maande verkeer tans in ’n koma nadat sy byna verdrink in die swembad by haar ouerhuis.

Soos enige ouer sal beaam, is dit onmoontlik om elke sekonde van elke minuut jou kleuter onder jou oë te hê, so sal ouers dan ook weet dat ’n ongeluk in ’n oogwink kan gebeur.
Op Maandag, 9 November omstreeks 13:00 was Mariaan Ainslie en haar kleindogter, Miané Ainslie doenig in die tuin.
Miané het rondgery op haar fietsie en haarself besig gehou.

CV166rs
Die pragtige Miané Ainslie is tans in die Intensiewe-sorgeenheid van Life Kosmos Hospitaal nadat sy byna verdrink het op Maandag 9 November.

Sy het glo met haar fiets om die opslaan swembad gery voor sy nuuskierig geraak het en haar fietsie by die swembad neergesit het. Sy het die trappies begin klim tot sy die water kon sien en dis toe haar ouma ’n waterslag hoor.
Mariaan se skoonseun, Jaco Herholdt, wat tydens die voorval in die huis was het dadelik op sy skoonma se histeriese gille gereageer en is buite toe.

“Ek was nie eers vyf minute in die huis nie, ek het ingegaan om my selfoon te laai en die gille gehoor,” het Jaco gesê.

Toe Jaco buite kom het hy sy ma aangetref met ’n lewelose Miané in haar arms.
Langamed Nooddienste is gekontak. Intussen het Marnic van der Westhuizen van ’n besigheid in die omtrek, oor die elektriese heining gespring en noodhulp toegepas.

Volgens Langamed Ambulansdienste het hulle kardiopulmonêre resussitasie (KPR) in die ambulans toegepas tot by Life Kosmos Hospitaal.
By ongevalle het dr. Wayne Banks en personeel oorgevat en het haar tot lewe gebring. Sy is daarna oorgeplaas na die Neonatale Intensiewe-sorgeenheid (NIS) waar dr. Dharmandra Daya en die waakeenheid personeel verdere mediese behandeling toegepas het.

“Miané is tans in ’n koma, maar haar suurstoftelling in haar bloed is konstant, asook haar hartklop en bloedruk,” het haar ma, Claudette Ainslie gesê.

Die familie is baie bekommerd oor die kritiese toestand waarin Miané tans verkeer, maar bly positief.

“Miané is net ’n seën van Bo, sy lag van wanneer sy opstaan tot sy gaan slaap. My lewe is onverwags omvergegooi en in flarde gelos,” het haar ma hartverskeurend gesê.

Claudette het ook bygevoeg dat sy nie hierdie swaar tyd van seer kon deurmaak sonder die mense van die gemeenskap wat vir haar dogtertjie bid en die uitstekende personeel van Life Kosmos Hospitaal nie.

“Die voorval het my net weereens bewus gemaak dat daar werklik steeds goeie mense daar buite is. Ek het nie medies nie, maar die hospitaal was bereid en dit sonder enige komplikasies, om my kind op te neem,” het Claudette ten slotte gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button