Oud inwoner vermoor

’n Verdagte is in hegtenis geneem na die dood van ’n boervrou van Thabizimbi die afgelope naweek.

’n Verdagte is in hegtenis geneem na die dood van ’n boervrou van Thabizimbi die afgelope naweek.
Kol. Ronél Otto, polisiewoordvoerder van Limpopo het bevestig dat die verdagte ammunisie by hom gehad het wat hy en sy makkers gesteel het.


Mnr. Bruno Res is Maandag 21 September geopereer om die skade aan sy arm te herstel.

Die verdagtes het ook ander vuurwapens, juwele en kontant gebuit nadat hulle mnr. Bruno en me. Petro Res en hul jarelange vriendin me. Marie Barnard Vrydag 18 September in die huis op die plaas Motlopi net buite Thabazimbi oorval het.

Die Res-egpaar is oud-inwoners van Kendal en baie bekend in die eMalahleni area.

“Ek en Petro het omstreeks 18:15 van die winkel af gekom. Bruno was by die huis en het vir ons gewag,” het me. Barnard die gebeure voor die aanval geskets. Me. Barnard, way in eMalahleni bly, het vir een aand by die Res-egpaar oornag.

Hulle is jarelange vriende.
Drie verdagtes het toegang tot die huis gekry toe me. Res die deur vir hul miniatuur Dobermann Pinscher oopgesluit het om buite toe te gaan.

“Ek het deur die venster geloer toe die hondjie begin blaf, en voor ek Petro kon waarsku dat ’n vreemde man by die braaier staan, toe het sy reeds die deur vir die hondjie oopgemaak,” het me. Barnard vertel.


Mnr. Bruno en me. Petro Res is ou bekendes in die omgewing.

Die verdagtes het dadelik na die twee vrouens toe gegaan en me. Barnard gevra wat het sy in die kamer gaan neersit. Toe sy verduidelik dis haar nagtassie het die verdagte haar aangesê om hom te gaan wys.

“Ek het my beursie voor hom oopgemaak en die kontant daarin vir hom gegee. Hy het my weer aan my arm gevat en teruggedwing kombuis toe.”

In die kombuis het sy gesien hoe me. Res by haar man buk en ’n lap om sy arm draai. Een van die rowers het hom deur sy arm geskiet.

Me. Res is kort daarna gedwing om saam met een van die verdagtes na die instapkluis te gaan en me. Barnard het by haar oorgevat en die bloed op mnr. Res se arm probeer stop.
Die verdagte het kort daarna alleen teruggekom en gesê almal moet kluis toe gaan.

“Die bloed op die teëls is in my gedagtes vasgebrand. Dit was nie my of Bruno se bloed nie.”
Me. Barnard het gedink haar vriendin se mond is toegebind toe sy geluidjies in die kluis hoor.
“Ek het Petro nie gesien nie, maar sulke snaakse roggel-geluidjies gehoor maak. Sy het agter die lessenaar op die vloer gelê.”


Die lykswa voor die plaashuis waar me. Petro Res Vrydag 18 September vermoor is.

Met trane wat oor haar wange loop het sy die oomblik herleef toe sy me. Res se kop op haar skoot sit en haar kop oplig in ’n poging om haar lugweë oop te maak.
Terwyl die verdagtes in die kamer besig was om me. Res se laaie te plunder is sy op me. Barnard skoot dood.
Die verdagtes se bloedspoor het nie daar geëindig nie. Omdat hulle nie ’n klein kombinasiekluis kon oopkry nie het hulle mnr. Res oor en oor met ’n pistool teen sy kop geslaan.

“Nie ek of Bruno het geweet wat die kombinasie is nie, hulle wou die goed in die kluis hê en het hom aanhoudend geslaan.”

Een van die verdagtes het vroeër vir me. Barnard gesê: “If you respect me, I will respect you.”

“Daar was iets, ek kan amper sê ’n vertroue tussen ons. Hy het teen die kluis se deur gestaan terwyl sy makkers met hul strooptog en aanval teen Bruno aanhou. Ek het in sy oë gekyk, my hande biddend teen mekaar gesit en woordeloos gevra, ‘Please go’.”

Me. Barnard het gesê daardie amper onsigbare boodskap het gemaak dat hy sy makkers bymekaar roep en hulle aanjaag.
Toe die verdagtes vlug het hulle die kluisdeur en ook die res van die huis se deure gesluit. Me. Barnard het die kluis ook van binne met ’n skuifslot gesluit.
Van buite af het alles normaal gelyk, asof die huismense gesluit en gery het.
Maar binne in die kluis het me. Barnard vir 16 ure probeer om mnr. Res kalm te hou en sy bloeding te stop, met die liggaam van me. Res net ’n entjie weg.

“Bruno was onder die indruk Petro was veilig, hy was nie bewus dat sy net ’n paar tree verder langs ons gelê het nie.”

’n Man wat ’n afspraak met me. Res gehad het, het by die huis aangekom en me. Barnard het hom hoor klop. Alhoewel sy aanhoudend geskree het, het hy haar nie gehoor nie.
Omtrent 11:45 Saterdagmiddag het mnr. Peet van Breda kom kyk of alles pluis is. Me Barnard kon sy aandag trek deur ’n gatjie, waardeur die lugreëling se pyp gaan, te skree.

Die Res-egpaar het in 2011 na Thabazimbi getrek nadat hulle jare lank op die plaas Heuwelfontein gebly het. Hulle was bekend vir die El Toro besighede, winkel en kroeg naby Kendal.
Mnr. Res is Maandag 21 September geopereer om die skade aan sy arm te herstel.

Me. Res laat haar man, haar ma me. Nellie Nel, haar kinders Roy Melville, Bruno Res, Pieter Res, Amelia Croucamp en kleinkinders agter.

Exit mobile version