CrimeNews

Rowers word gesoek

Toe die rooftog verkeerd loop, het hulle ’n man van sy voertuig buite die besigheid beroof

Witbank Trio-taakspan is op soek na verdagtes wat betrokke was by ’n poging om ’n besigheid te roof.
Toe die rooftog verkeerd loop, het hulle ’n man van sy voertuig buite die besigheid beroof.

Die eienaar van die besigheid, wat verkies om anoniem te bly, het gesê hy was Saterdag 25 Augustus saam met sy dogter by die besigheid toe hulle onverwags deur drie rowers betrap was.
Hy het in die verklaring aan die polisie gesê hy het ’n man in die ontvangs opgemerk en ook ’n tweede man gesien wat homself op een van die stoele tuisgemaak het.

Dit was die mussies en rubberhandskoene wat hom laat besef het hier is die moeilikheid aan die kom.
Dis toe een van die verdagtes ’n vuurwapen op sy minderjarige dogter rig, dat hy besef het hulle word beroof.
Terwyl een van die verdagtes die deur na die besigheid se werkswinkel probeer oopstoot het hy vir sy dogter geskree om die alarm te druk. Hy het die verdagtes uit die werkwinkel probeer hou en die deur toegeslaan.

Die alarm het die verdagtes afgeskrik en videomateriaal wys hoe hulle rustig uit die besigheid stap asof niks gebeur het nie.

Maar vir ’n niksvermoedende kliënt was hierdie Saterdag nie een wat hy gou sal vergeet nie.

Mnr. Peter Ngoma wou sy bakkie kom diens. Hy het rustig in sy bakkie gesit en na musiek geluister terwyl hy op sy beurt gewag het om sy bakkie in te vat.
Hy het aan die polisie gesê hy het gedink die drie mans wat buite die besigheid rondgedrentel het was op soek na werk. Hy was salig onbewus wat skaars meters ver van hom af besig was om te gebeur.
Die verdagtes het sy bakkie as die perfekte wegkomkans gesien.

“Ek het gedink dit was die mense van die besigheid wat my kom roep om my bakkie in te vat,” het hy gesê toe een van die verdagtes na hom toe aangeloop gekom het.
“Ek was skoon deurmekaar toe die man ’n vuurwapen op my rig,” het Ngoma gesê.

Die verdagtes het geskree hy moet uit sy bakkie klim.
Gelukkig vir Ngoma is sy bakkie die volgende dag teruggevind.

As jy en van die verdagtes herken skakel die Trio-taakspan: 083 879 5271.

Video HIER:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button