Riool kan groot skade nalaat

Die aanhoudende vloei van riool verkrag ons dorp.

Die aanhoudende vloei van riool verkrag ons dorp.

Riool vloei onophoudelik by twee verskillende plekke uit in Blancheville. In Avril Crescentstraat en ook in Beitstraat is daar ’n permanente vloei van riool.


Riool lê in poele vanwaar dit uitloop al vanaf 3 Julie in Blancheville.

Volgens mnr. Roy Cronjè, DA raadslid van Wyk 20, het hy al in meer as een vergadering hierdie probleem aan die waarnemende munisipale bestuurder, mnr. Theo van Vuuren genoem.

“Hierdie is nou al ’n probleem vanaf ongeveer 3 Julie. Ons weet nie meer wie om te nader nie en hierdie probleem word net erger,” het Cronjè gesê.

Volgens Cronjè vloei die riool in ’n spruit in wat dan in die Olifantsrivier invloei. Die Olifantsrivier vloei dan in Loskopdam in. Die water van hierdie dam word hoofsaaklik gebruik vir besproeiing van gewasse in die omliggende gebiede.


Mnr. Roy Cronjè (DA Raadslid vir Wyk 20) saam met mnr. Moosa Bhamjee (openbare betrekkinge) staan by die uitlooppunt van die riool in Beitstraat, Blancheville op Donderdag, 27 Augustus.

“Daar was steeds geen verandering sedert Donderdag nie,” het Cronjè op Maandag, 31 Augustus gesê.
In Beitstraat loop gas in pype onder die grond. Die hele gebied is afgemerk met wit paaltjies om die loop van die pype aan te dui.
“Hier kan glad nie in die grond gegrou word nie, as gevolg van hierdie pype onder die grond,” het Cronjè gesê. “So wat hulle gaan doen weet ek nie, maar die probleem moet stop gesit word.”

In die veld in Beitstraat, vloei die water onder deur ’n brug, wat onderdeur die pad loop. Hier lê die rommel wyd gesaai. Dit word dan saam die stroom gevat en ook in die Olifantsrivier gespoel.
Volgens ’n kenner van eMalahleni loop riool ook uit by Klipfonteindam. Na bewering spruit hierdie dam uit tot in Witbankdam. Die spruit in Tasbetpark, Uitbreiding 3, loop ook tot in Witbankdam. Volgens hierdie kenner stroom riool agter die riete by die wal van Klipfonteindam uit. Dit word dan saam die stroom meegevoer, onderdeur O.R Tambostraat tot in Witbankdam.


Riool borrel onophoudelik by die uitlooppunt uit in Beitstraat en ook in Avrilstaat, Blancheville.

Die water van Witbankdam word gebruik vir die inwoners van eMalahleni se alledaagse gebruik na dit deur suiweringsprosesse gegaan het. Op Sondag 2 Augustus het die drywers van ’n onbekende riooltrok die inhoud van die trok leeggemaak in die spruit in Tasbetpark. Na een van die inwoners gevra het hoekom hulle dit doen, was die antwoord, ‘kyk hoe lyk hierdie plek in elk geval’.

Langs die N4-snelweg oppad na Middelburg, loop die riool ook uit tot in ’n dam wat water na Witbankdam voer. In drie gevalle is die dooie visse ’n ander bekommernis. Die oorsaak hiervan is steeds nie bekend nie. Volgens ’n Kenner is daar verskeie redes waarom visse doodgaan sekere tye van die jaar. Die presiese oorsaak van die dooie visse wat oral uitgespoel het, sal nog vasgestel word.

In die een geval het mnr. Piet Wassenaar, verteenwoordiger van Wyk 34 en ook voorsitter van die Gemeenskaps Polisieëringsforum (GPF) ’n vis in die stroom gekry wat verby sy huis vloei.

“Die vis se skubbe is afgebrand en ook sy mond het brand plekke in. Daar kan verskeie redes wees waarom die vis so lyk. Te veel suur in die water kan ook ’n oorsaak hiervan wees,” het hy gesê.

In een van die spruite wat in ’n veld langs Mandelastraat vloei, is skuim duidelik sigbaar in die water. Wassenaar het nie al die feite van hoekom hierdie water so baie skuim het nie, maar dit kan vermoedelik as gevolg van riool wees. Die riool ruik ook sterk soos die water stroom af vloei.

Na verskeie pogings om inligting te kry vanaf die Emalahleni Munisipaliteit, is geen terugvoer ontvang teen druktyd nie.

Exit mobile version