Larochelle dra eMalahleni se naam hoog

Om jonk te wees hou baie voordele in, veral as jy die jongste deelnemer is van die tweede ‘Win a Home’ reeks.

Om jonk te wees hou baie voordele in, veral as jy die jongste deelnemer is van die tweede ‘Win a Home’ reeks.
Op 21 jaar oud is Larochelle Janse van Rensburg gekies om deel te wees van hierdie kompetisie.

“Ek was saam met ’n kliënt by Gallagher Estate en die kameraspan van ‘Win a Home’ was daar. Nadat ek lank gewonder het of ek dit moet doen, het die kliënt my oortuig. Ek was baie skrikkerig maar het dit tog gedoen,” het Larochelle gesê.
“Ons het vir lank niks gehoor van die kompetisie nie, maar op Woensdag, 19 Augustus het sy omstreeks 18:00 ’n oproep gekry om haar te laat weet dat sy gekies is om deel te neem,” was die woorde van haar werkgewer, Frances Nell. “Hulle het haar ook op daardie dag omstreeks 20:45 laat weet dat hulle kameraspan die volgende dag na ons kantore toe gaan kom,” het Frances verder vertel.

Sy was een van die 14 deelnemers gekies vir hierdie televisie-reeks.
Die kriteria noodsaaklik om deel te wees van hierdie kompetisie, is dat jy minder as vyf jaar ondervinding moet hê of tans besig wees om binnehuis versiering te studeer. Larochelle is tans besig met haar derde jaar studies as binnehuis versierder en werk nou ongeveer drie jaar by haar huidige werkgewer.

“Sy het altyd gesê ek inspireer haar om hierdie beroep te studeer. Sy het vars uit die skool by my kom aanklop vir werk. Sonder enige ondervinding het sy hier begin en nou het ons altwee se passie haar al in Umhalanga,” het Frances vertel.

Kort nadat sy vir Frances begin werk het, het sy binnehuisversiering begin studeer en nog nie een dag teruggekyk nie.
Nadat haar onderhoud by die kantoor afgehandel was op Donderdag, 20 Augustus, het haar een riging vliegtuigkaartjie gekom.

“Ek het haar gegroet sonder ’n wete van wanneer ek haar weer gaan sien,” het Frances gesê.

Tydens hul besoek aan ons winkel het hulle ’n onderhoud met Frances en ook met Larochelle gedoen. Hulle het ongeveer twee en ’n half ure se beeldmateriaal nodig gehad vir die eerste episode se uitsending.
Frances het van Larochelle gepraat as haar eie kind.

“Ons kom al so lang pad saam, sy voel werklik soos my eie dogter. Ek is verskriklik opgewonde vir haar, en hoop uit my hart uit sy wen. Dit is ’n groot aanpassing om ‘geen Larochelle’ hier te hê nie, maar ek gun haar dit,”

het Frances bygevoeg.

Larochelle is ook deel van ’n Christelike musiekgroep, genaamd vierkruis. Frances het haar opgesom in een sin. ‘Sy het goeie morele waardes en is baie ambisieus, die glans straal uit haar uit’.

“Ek glo en vertrou dat sy ver sal gaan in hierdie kompetisie. Ons praat op ’n daaglikse basis en sy stuur gereeld vir my foto’s,” was Frances se woorde.

Sy bly tans steeds by haar ouers in eMalahleni maar is in Umhlanga gedurende die kompetisie.

“Ons kry baie min slaap en word al baie vroeg uit die bed gejaag. Die dae is verskriklik besig, maar so nou en dan kry ons gelukkig ’n af dag,” het Larochelle met baie opgewondenheid vertel.

Die kompetisie werk op ’n elimineer-basis, en hierdie week word twee eliminasies gedoen.
Op Dinsdag, 25 Augustus het Larochelle ’n dag af geniet van die besig kompetisie.

“Ek geniet dit verskriklik baie. Ons bly in ’n hotel in Umhlanga, maar is besig tussen verskillende plekke met die kompetisie. Dit is werklik ’n gejaag van een plek na ’n ander,” het Larochelle gesê.
“Stemme van die publiek tel definitief baie. En hoe meer mense my op Twitter volg en ook vir my stem, hoe beter is my kans om te wen,” het Larochelle bygevoeg.

Die uitsending van hierdie program is elke Vrydag 19:30 tot 20:30 op SABC 3.
Sy kan op Twitter gevolg word by @LarochellevR1

Exit mobile version