Gewapende roof skiet die hoogte in

Gewapende rooftogte het sy tol geëis hierdie laaste week.

In een geval was die slagoffer by die gholfbaan se staproete, toe hy beroof is van sy persoonlike besittings. Die slagoffer is met ‘n mes gedreig, waarna sy sak gesteel is met werksklere daarin.
In ‘n ander geval was die slagoffer te voet oppad huistoe en het op haar selfoon gepraat. Sy het ‘n man na haar toe sien kom en hy het gesê sy moet haar selfoon oorhandig. Sy is ook met ‘n mes gedreig.

Dit is nie net op straat wat mense beroof word nie, maar ook by hul werksplekke. Hierdie slagoffer beweer dat hy alleen in die wagkamer was by sy werk toe daar drie mans ingekom het. Een het ‘n vuurwapen in sy besit gehad. Die mans het hom beveel om op die grond te lê en het hom vasgemaak met skoenveters en draad.
Terwyl hy op die vloer gelê het, het die een verdagte by die kantoor langs die wagkamer ingebreek. Hulle is weg met ‘n onbekende bedrag geld en vier selfone. Nadat ondersoekbeamptes by die toneel was het hulle vasgestel dat daar geen veiligheidskamera’s geïnstalleer is nie.

Nog ‘n slagoffer van ‘n rooftog was te voet oppad huistoe, toe hy deur twee mans beroof is. Hy was met ‘n vuurwapen gedreig. ’n selfoon en  onbekende bedrag geld is gesteel.
Buite ‘n bekende gebou in eMalahleni het die slagoffer buite in die kar vir sy vriend gewag. ‘n Onbekende man het hom met ‘n vuurwapen gedreig en hom beveel om uit sy kar uit te klim. Daarna het die verdagte met sy voertuig weg gery. Die slagoffer beweer dat hy die verdagte sal kan uitken. Daar was ander items ook in die kar, die geskatte waarde van alles is sowat R270 000.

Op die N4-snelweg oppad na Nelspruit het ‘n trok afgetrek om seker te maak dat alles nog in orde is met die vrag. Na bewering was hulle nie ver van die tolhek af nie toe drie mans in die trok gespring het aan die passasierskant. Hulle het persoonlike besittings uit die trok gesteel en die drywer van die trok het tevergeefs probeer om die rowers agterna te sit. Hulle het ‘n vuurwapen in hul besit gehad en het dit op die drywer gerig. Hy kon niks anders doen as om om te draai nie.

Drie onskuldige mense was slagoffers van ‘n gewapende roof asook verkragting. Die drie kollegas was oppad huis toe van die werk af toe twee gewapende mans, een met ‘n mes en die ander met ‘n vuurwapen, hulle in die bosse langs die pad ingeneem het. Hulle selfone is gesteel waarna die twee verdagtes die twee dame slagoffers saam hulle gevat het en hulle na bewering verkrag het. Daar is vir die slagoffer gesê hy mag nie ‘n geluid maak nie en nadat die rowers buite sig was het hy vir hulp gaan soek.

‘n Slagoffer van ‘n meer gewelddadige roof was Vrydag 12 Junie gesteek met ‘n mes in sy kop asook in sy rug. “Die kliniek se ry was baie lank en hulle kon my nie dadelik help nie. Hulle het gesê ek moet na die ongevalle by die hospitaal gaan,” het die slagoffer gesê wat eerder anoniem wil bly. Gedurende die roof is twee selfone, sy skootrekenaar en ‘n onbekende bedrag geld gesteel. “Dit was nie ‘n lekker ondervinding nie maar ek voel alreeds baie beter,” het hy ten slotte gesê.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Witbank Nuus se webwerf:
Witbank Nuus

Besoek ook ons Facebook of Twitter blaaie.
Is jy passievol oor jou gemeenskap? Teken in op ons splinternuwe nuusflitse. Stuur ‘n boodskap op WhatsApp met jou ‘Naam en Van’ na 082 955 7201 of teken aan op BBM 7F6C600F om jou nuusflitse gratis te ontvang.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version