Promise het weer ’n Bybel

“Ek lees nie nou nie,” het sy gesê en die onsigbare grense om haar weer opgesit.

Langs Promise Ngwenya lê ’n Bybel.
“Ek lees nie nou nie,” het sy gesê en die onsigbare grense om haar weer opgesit.
Vir een of ander rede was Promise vroeër die week kwaad vir alles en almal.
Promise wat die afgelope vyf jaar lank op die klippe op die hoek van die besige interseksie van OR Tambo- en Mandelastraat bly, is al ’n bekende gesig.

Sy bedel nie, sy vra nie, sy kyk jou nie met smeekgebede in haar oë aan nie, sy leef net daar.
In haar toegepleisterde wêreld het Promise vir haar ’n lewe geskep.
Dis hartseer om te dink dat sy ook ’n baba was. Miskien het haar ouers ook mooi drome oor haar gedroom, sou sy dalk ’n begaafde kind wees wat bo ander uitgestyg het? Soos ander tieners het sy ook maats gehad, verlief geraak, gehuil oor ’n gebroke hart en toe het sy self kinders gehad.
Promise praat nie oor daardie herinneringe nie.

Joseph Sibanyone ken eMalahleni se Klipvrou baie goed.

Sy was besig om ’n soom in, wat lyk soos, ’n langbroek in te werk.
“Dis myne,” het sy kortaf gemompel en die swart lap weggesteek.
Om haar lê nartjieskille, ’n leë plastieksakke, uitgebrande kerse en ’n tuisgemaakte besem.
Ongeërg het sy na die Bybel gekyk, terwyl sy steek vir steek die soom verder inwerk.
“Die vrou het die Bybel vir my kom gee. Ek het ook ’n kombers …” so het die gesprek opgedroog.
“Daai vrou is mal. Sy het ’n plekkie in die lokasie. Sy is verdomp hardkoppig. Vandag gaat haal die welsyn haar, môre is sy weer terug. Hier gaan sy vrek,” het Joseph Sibanyone in die verbygaan gesê.

Hy loop elke dag verby Promise op soek na skroot en plastiekbottels om op te tel en te verkoop.
“Nee, jy mors jou asem, sy hoor nie,” het Joseph gesê en sy mankoliekerige kruiwa verder gestoot.

Me. Christell Oberholzer het oor die naweek vir Promise Ngwenya sop, brood en ’n Bybel gevat.

*Dankie aan die gemeenskap wat hul harte vir Promise oopgemaak het. In besonder baie dankie aan Christell Oberholzer  en Witbank Community wat nie net vir Promise ’n warm koppie sop en ’n broodjie gevat het nie, maar ook vir haar die Bybel gegee het.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Witbank Nuus se webwerf:
Witbank Nuus

Besoek ook ons Facebook of Twitter blaaie.
Is jy passievol oor jou gemeenskap? Teken in op ons splinternuwe nuusflitse. Stuur ‘n boodskap op WhatsApp met jou ‘Naam en Van’ na 082 955 7201 of teken aan op BBM 7F6C600F om jou nuusflitse gratis te ontvang.

Exit mobile version