CrimeNews

Bewaar boewe hou jou huis dop

“Ek het twee van hulle in die lang gras gewaar en toe ek aankom het hul opgespring en weggehardloop.”

’n Inwoner, woonagtig op ’n plot, het onlangs vertel hoe verdagte persone huise dophou en twee gevalle aangemeld van inbrake by twee verskeie plotte.
Op Saterdag 13 Junie en Sondag 14 Junie, het mnr *Brand die twee inbrake gerapporteer wat by die Dixon AH plotte plaasgevind het.
“Die eerste geval het omstreeks 04:00 Saterdagoggend plaasgevind. Die inwoner op die plot het wakker geword toe sy haar poedelhondjie buite hoor blaf,” het hy vertel.

Die vrou het blykbaar deur die huis se venster gekyk wat aangaan toe sy ’n verdagte man by haar motor in die erf gewaar het. “Hy het die enjinklap van die motor oopgemaak om die battery te probeer steel,” het Brand verduidelik. “Sy het haar vuurwapen by haar gehad en op hom geskree, waarna hy weggehardloop het en sy vier waarskuwingskote gevuur het. Die verdagte het loshande oor die heining gespring en weggehardloop.”
Die Zello-group, Witbank 911, is ook gekontak en het minute later op die toneel aangekom waar hul ’n soektog na die verdagte geloods het. Die verdagte het spoorloos verdwyn in die veld langs die plot.

Die inwoner se hondjie is ook dood aangetref op die toneel. Vermoedelik vergiftig met die dodelike ‘Two-step’ gif.
Sondagoggend is ’n soortgelyke voorval gerapporteer toe, vermoedelik dieselfde verdagte, in die plot net agter die eerste ingekom het.
“Hierdie keer het hy die vensters van ’n Volkwagen Polo stukkend geslaan om toegang te kry tot die voertuig,” het Brand gesê.
“Die motor se alarm het toe afgegaan, wat die inwoners van die huis wakker gemaak het en die verdagte het weer weggehardloop en oor die heining gesping.”

Brand vertel dat daar niks uit die voertuig gesteel is nie, maar dat dit die eienaar grootliks gekos het om die stukkende venster te vervang.
Brand het gedurende die week, na die twee inbrake, besluit om self inspeksie te doen rondom die plotte. Brand vertel hoe hy laat gedurende een aand se patrollie naby die veld vier verdagtes gewaar het. Hulle het glo in die lang gras van die veld versteek gesit en wag. Toe hul Brand gewaar het, het hul weggehardloop.
“Hulle hou die plotte dop en slaan dan toe op die uitgesoekte huise – veral die wat naaste aan die pad is,” het Brand gewaarsku.

*Brand is ’n skuilnaam wat gebruik is vir die inwoner wie verkies om anoniem te bly.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Witbank Nuus se webwerf:
Witbank Nuus

Besoek ook ons Facebook of Twitter blaaie.
Is jy passievol oor jou gemeenskap? Teken in op ons splinternuwe nuusflitse. Stuur ‘n boodskap op WhatsApp met jou ‘Naam en Van’ na 082 955 7201 of teken aan op BBM 7F6C600F om jou nuusflitse gratis te ontvang.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Back to top button