Local newsNews

Eish Eskom! beurtkrag knyp die sakke

Inwoners meen hulle sal beurtkrag kan verdra, as Eskom die ‘beurt’kostes kan dra.

Met beurtkrag wat nou landswyd toegepas word om ’n ineenstorting van die kragsisteem te verhoed, is inwoners gerat daarvoor om elke dag vir ’n paar ure sonder krag te sit.

Waarvoor inwoners nou nie gereed was nie, was al die kostes van die skade veroorsaak deur kragstuwings wanneer Eskom dan weer die krag aansit.
Pensionaris, mnr. Cecil Long, het vertel hoe hy in ’n maand se tyd talle ligte in sy huis moes vervang het en sê dat hy ook vrees vir ’n brand risiko. “Die gang se ligte het eerste gegaan en die ‘transformer’ (transformator) het heeltemal uitgebrand,” het Long vertel. Ses ligte in die leefarea van sy huis in Verkennerstraat, was ook beskadig na nog ’n kragstuwing met nog ’n uitgebrande transformator.

“Die elektrisiën wat by my huis was het vir my gesê dat ons gelukkig kan wees dat dit nie ’n brand gestig het nie,” meen Long en vertel dat die drade wat met die tranformator gekoppel was gesmelt het.
Long, wat al 17 jaar in dieselfde huis woon, sê dat hy nog nooit voorheen probleme gehad het wanneer die krag afgegaan het nie.
“Ek het 12 volt liggies in die huis gesit om krag te bespaar.” Na die ligte beskadig was deur die kragstuwings, vertel Long, moes hy alles vervang het met 220 volt ligte – wat hopelik dan die sterkte van die kragstuwings kan ondersteun. “Dis soos golwe wat teen ’n rots slaan. Wanneer die krag aan kom is dit ’n oorweldigende stroom krag en die elektriese toestelle kan dit nie hanteer nie. My seun in Kroonstad het al twee ‘flatscreen’ TV’s verloor as gevolg van dieselfde probleem.”

Long vertel dat die beurtkrag die maand geweldig aan sy sak geruk het. “Vir arbeid alleenlik moes ek R1 000 uithaal.” As pensionaris, meen Long, kan hy nie al die skade bekostig nie. “My huis kon afgebrand het en dan sou ek nog groter skade ly!”

Talle ander inwoners het ook gekla oor die kragstuwings wat groot skade veroorsaak. Yskaste, TV’s en warmwatertoestelle is van die duur elektroniese toestelle wat beskadig kan word. ’n Eienaar van ’n ‘bearded dragon’ (’n tipe reptiel) het ook vertel hoe sy gereeld die spesiale (en baie duur) lig moet vervang waarvan die reptiel afhankilik is vir hitte.

Inwoners meen hulle sal beurtkrag kan verdra, as Eskom die ‘beurt’kostes kan dra.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Witbank Nuus se webwerf:
Witbank Nuus

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
Is jy passievol oor jou gemeenskap? Teken in op ons splinternuwe nuusflitse. Stuur ‘n boodskap op WhatsApp met jou ‘Naam en Van’ na 082 955 7201 of teken aan op BBM 7F6C600F om jou nuusflitse gratis te ontvang.

Back to top button