Lappies laat baie herinneringe

’n Visserman, skeidsregter, afrigter... ’n onderwyser. Hulle het hom Lappies genoem.

Die man, pa en oupa, welbekend aan oud-studente en rugbyspelers en baie geliefd deur almal wie die voorreg gehad het om hom te ken.
Daniel Janse Labuschagne (Lappies) glimlag steeds op al die foto’s teen die muur en onder die glasblad op ’n tafel. Die huis in Bankenveld wat hy saam met sy vrou, Annabelle, gedeel het is gevul met ’n sekere leemte vandat hy nie meer daar is nie…
“Hy was lief daarvoor om mense te onthaal,” sal Annabelle vertel.

Met vars trane in haar oë staan sy en kyk na groenigheid buite die glasdeur wat die leefarea en stoep skei.
’n Groente tuin en talle vetplantjies in die tuin – alles natuurlik deur Lappies geplant en versorg.
Hy het groenvingers gehad en ook ’n groot hart. Alles wat hy versorg en gehelp groei het, het volle pontensial bereik… die spruite in sy tuin asook die ‘spruite’ by die skole waar hy vroeër jare onderwys gegee het.

Die muur is vol met foto’s van Lappies en sy gesin.

Lappies het in Vryheid grootgeword en het by die Hoër Tegniese Skool in Bloemfontein sy skoolloopbaan voltooi. Dis hier in Bloemfontein wat hy toe ook vir Annabelle ontmoet het. Hy het vir 10 jaar lank by die spoorweg gewerk voor hy onderwys studeer het. Lappies en Annabelle was eers saam Pretoria toe voor hul verhuis het na Brakpan waar hy vir agt jaar onderwys gegee het by Hoër Tegnies Brakpan.
In 1978 het die paartjie hulself in Witbank gevestig. Lappies het by Hoër Tegniese Skool skoolgegee en het later die possisie as Departementshoof opgeneem. Hy was as Departementshoof in 1984 by WH de Klerk Skool aangestel waar hy skool gegee het tot en met sy aftrede in 2005.

Lappies was ook welbekend as rugbyafrigter en skeidsregter. “In 1979 het hy fluitjie geblaas vir Suidoos-Transvaal,” het Annabelle vertel. Na Lappies by die Skeidsregtersvereniging aangesluit het was hy een van slegs twee provinsiale skeidsregters gekies om te blaas vir Suidoos-Transvaal. Hy het al by die Curriebeker as skeidsregter opgetree asook ’n paar ander groot wedstryde in die Oos-Transvaal. Vir jare was hy ook ’n rugbyafrigter by die gevangenisdienste, sowel as by die skole waar hy skoolgegee het.

Annabel verf die prentjie van ’n liefdevolle man, geheg aan sy gesin. Hulle het net die een dogter, Surette, en een kleindogter wat saam in Texas, Amerika bly.
“Almal wat hom geken het was mal oor hom. As sy oud-leerlinge hom in die dorp raak loop sou hulle hom altyd vriendelik kom groet,” vertel Annabelle met ’n halwe, hartseer glimlag. “Hy het altyd ’n grappie gehad om te vertel. As hy in sy tuin gewerk het, het hy almal wie verbygeloop het gegroet. Hy het my so bederf en wou altyd alles vir my doen… niks was ooit te veel vir hom nie.”

Gelukkig saam (al het hul nie vir dieselfde rugbyspanne geskree nie) Annabelle en Lappies.

Op 17 April was Lappies skielik en onverwags weggeneem van sy geliefdes. “Ek onthou die oggend het hy wakker geword en opgestaan om na die badkamer te gaan. Ek het vir hom gevra: ‘hoe laat is dit?’ en hy hy het geantwoord: ‘dis 03:45’,” onthou en beskryf Annabelle haar laaste herinnering saam met hom. Sy vertel hoe hy, na hy weer terug is in die bed langs haar, snaaks en rukkend begin asem skep het. “Ek het my hand so op sy maag gesit… ‘Pappa, wat is fout?’ Ek het opgestaan en aan hom geskud…” Annabelle se stem het gebreek en weggeraak soos die trane weer by haar oë uit lek en haar skouers met emosie skud. “…hy het so gelê daar langs my toe hy sy laaste asem uitblaas.”

Die skielike hartaanval net twee weke na die paartjie se 50ste huweliksherdenking het vir familie en vriende as ’n groot skok gekom. Meer as 200 mense het die roudiens bygewoon om hul laaste eer te betoon aan die man wie ’n spesiale plek in elke persoon se hart opgeneem het.
Soos Annabelle dan voor haar uitstaar na die groen tuin… pienk, pers en rooi blomme, kaktusse, spinnasieblare en potplante… onthou sy haar Lappies. Hy het ’n saadjie van liefde geplant in haar hart. Na jare se liefde en omgee is die saadjie ’n boom en kan sy nou die vrugte van herinneringe pluk.

Exit mobile version