Local newsNews

20 jaar se herinneringe weg in vlamme

Trane loop vrylik oor me. Anthea Swart se wange wanneer sy na die afgebrande gedeelte van die huis kyk waarin 20 jaar se herinneringe nou net as is.

’n Groot gedeelte van die huis in Proteastraat is Sondagoggend 3 Mei 04:00 in puin gelê nadat hul lapa onverklaarbaar aan die brand geraak het.
“Ons het gaste van Brits gehad wat oornag het. Net so voor 04:00 het een van die gaste my geroep en gesê iets brand. Ek het iets hoor val in die lapa se gedeelte. Dis toe ek die vuurtonge sien ….” het mnr. Chris Swart, eienaar van die huis, gesê.
Hy het stil geraak en net na die swart verbrande lapa gestaar.

Een van die fotos wat op Facebook geplaas was terweil the brandweer die vlamme probeer blus.
Een van die fotos wat op Facebook geplaas was terweil the brandweer die vlamme probeer blus.

Me. Swart het in ongeloof probeer sin maak uit die tragedie.
“Toe ons besef die huis brand het ons almal so gou as moontlik uitgekry. Op daardie stadium het ek nie eers aan die huis gedink nie,” het sy gesê.
Realiteit het die gesin ’n dwarsklap gegee toe hulle later die aand by familie oornag het.
“Skielik het ek besef, ons het nie tandeborsels of klere nie. Dis klein goedjies waaraan ons gewoond is, skielik is die klein goedjies net nie meer daar nie,” het sy saggies geprewel.

Al wat oor is na die brand.
Al wat oor is na die brand.

Mnr. Swart het gesê die plaaslike brandweer het hulle in die steek gelaat.
“Hulle het meer as 30 minute gevat om by ons uit te kom. Daardie tyd van die oggend is daar nie verkeer op die paaie nie, ek kan nie verstaan hoekom hulle nie vinniger opgedaag het nie.”
Hy het ook genoem dat die brandweer uit water gehardloop het. “Hulle moes ry en nog water gaan haal.”
Mnr. Swart wat voorheen lid was van ’n myn se protospan het gesê hy was verbaas toe die brandweer die heeltyd die vlamme in die sitkamer by die televisie probeer blus terwyl die dak nog in ligte laaie was.
“Hulle het duidelik nie die regte opleiding ontvang nie. Dis in alle geval nou té laat ons moet nou die as optel en aangaan,” het hy emosioneel gesê.

Die plaaslike munisipaliteit is genader om uit te vind hoekom die brandweer so lank gevat het om by die brandende huis uit te kom en hoekom hulle nie genoeg water gehad het om die vuur te blus nie. Hulle het teen druktyd nog nie gereageer nie.

Boodskappe wat geplaas is op Facebook.
Boodskappe wat geplaas is op Facebook.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Witbank Nuus se webwerf:
Witbank Nuus

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
Is jy passievol oor jou gemeenskap? Teken in op ons splinternuwe nuusflitse. Stuur ‘n boodskap op WhatsApp met jou ‘Naam en Van’ na 082 955 7201 of teken aan op BBM 7F6C00F om jou nuusflitse gratis te ontvang.

 

Back to top button