CrimeNews

Trokdrywer gekaap na hy stop vir ‘polisie’

’n Trokbestuurder het laas week die teiken geword van kapers na hy glo deur ’n ‘polisievoertuig’ afgetrek is.

Eienaar van die trok, mnr. Werner Nothnagel, het vertel hoe een van sy drywers Dinsdagaand 24 Maart deur vier verdagtes op die N1-snelweg aangeval is na hy glo van die pad afgetrek is.
“Volgens die drywer het dit soos ’n polisiekar gelyk en toe hy langs die pad aftrek het ’n man in uniform uitgeklim om met hom te praat.”
Volgens die trokbestuurder het die skynbare ‘polisieman’ baie intimiderend voorgekom.
“Daar het ’n kar agter die trok gaan stop waaruit vier verdagtes geklim het en toe in die trok gespring het,” het Nothnagel die drywer se weergawe oorgedra.

Die verdagtes het met die bestuurder in die trok, verder aangery op die N1 oppad na Ogies.
“Naby die Ogies of Hendrina omgewing het die verdagtes die drywer langs die pad gelos en verder aangery.”
Die bestuurder is vasgemaak, maar na ’n stryd kon hy homself bevry en het hy na een van myne toe geloop waar hy kon hulp kry.

Nothnagel vertel dat alhoewel die bestuurder steeds na die naaste trauma-sentrum geneem is, hy gelukkig geen ernstige beserings opgedoen het nie. Volgens die drywer het die verdagtes hom ’n paar keer geslaan en met ’n skokstok gedreig.

Die gesteelde voertuig is Donderdag 26 Maart opgespoor. “Carolina Polisie het die trok glo op die pad na Swaziland in ’n mielieplantasie ontdek,” het Nothnagel gesê.
Nothnagel meen dat hy sy drywers gewaarsku het om nie in die aande van die pad af te trek vir noodvoertuie nie, maar eerder noodligte aan te sit en stadig na die naaste polisiestasie te ry – soos die wet dit toelaat.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Witbank Nuus se webwerf:
Witbank Nuus

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
Is jy passievol oor jou gemeenskap? Teken in op ons splinternuwe nuusflitse. Stuur ‘n boodskap op WhatsApp met jou ‘Naam en Van’ na 082 955 7201 of teken aan op BBM 7F6C00F om jou nuusflitse gratis te ontvang.

 
Back to top button