Local newsNews

Onder Willie se hand word Springbokke voorberei

Die name Brent Russel, David Campese, Geoff Appleford, Matthew Pennyfeather, Albert van der Berg, Dean Haydn, Peter Dixon en Willie Oosthuizen het alles twee dinge in gemeen.

Die eerste is rugby en die tweede die Oompies rugbywedstryd in Durban wat op 14 Maart gespeel is.
Die wedstryd wat ten bate van Cedrick Mkize wat in 2007 verlam is na ’n motorongeluk, gespeel is, het die ‘oumanne’ weer kans gegee om bietjie te speel.
Shumba Ferro’s se afrigter, Willie Oosthuizen was saam met Campese en Appleford genooi om vir die Fidility Invitation Legends XV diens te doen.

Willie se blou oë het saamgelag terwyl hy van dié ondervinding vertel het, “In so ’n  wedstryd sak of staan jy waar die laaste ou moeg geword het, dit kan enige iets van stut tot heelagter wees. Ek het natuurlik probeer om nie in die agterlyn op te eindig nie, my ‘oge’ wil die bal nie meer so lekker raaksien nie.”
Die Invitation Legends het die ‘klipharde’ wedstryd met sewe drieë teenoor ses gewen. Daar is mos ’n gesegde wat iets sê van hoe ouer die bok hoe harder die ‘wedstryd’.
Willie het die wedstryd terdeë geniet. “Moeg is nie die woord om my te beskryf na die wedstryd nie, maar ek is so tevrede dat die ‘oom’ nog kán speel. Ek is geseën met ’n gesonde liggaam om te kon speel en ook lewendig van die veld af te kan loop.”
Willie wat al 52 kersies op sy verjaarsdagkoek uitblaas is in Middelburg gebore en getoë.

Sy liefde vir die internasionale sport het langs Belfast Rugbyklub se veld gegroei.
“My oom, Nan Broekman het in Belfast se gloriedae op stut uitgedraf, ek was langs die veld, ek was die ‘ball-boy’. Toe Oom Nan later vir Suidoos gespeel het, het ek feitlik elke wedstryd gaan kyk.”
Toe hy oud genoeg was het Willie vir Belfast uitgedraf. Later jare was hy in aksie in die o.23 Suidoos-span en het ook sy buiging in Suidoos se senior B-span gemaak ook op provinsiale vlak.
Op klub-vlak het Willie vir 4SAI, Middelburg en Ferro’s uitgedraf.

Tydens sy weermagopleiding het hy ook op nasionale vlak gespeel vir Oos-Transvaal, Noord-Transvaal, Griekwas en die destydse SWA Gebiedsmag span.
“Op skool het ek alles behalwe skrumskakel gespeel,” het hy gesê.
Die skadu’s het oor die veld gaan lê en die pale op die gras afgeëts. Net so het Willie hom meer begin toespits op afrigting.
Die Puma o.19-span word onder sy bekwame hande afgerond tot spelers wat selfs later nog ’n reuse bydrae op die veld maak. Sommer so uit die vuis uit kom name soos JP Pietersen (Springbok), Dusty Noble (7’s Springbok), Howard Noble (7’s Springbok), Ruan Nel (7’s Springbok), Tiaan Schoeman (Bulls Super 15), Clinton Swart (Griekwas) en ook Jean Vonkwyn (Griffons) op.
zg236-2rs
Willie het hom in 2005 by die plaaslike Ferro’s klubrugbyspan aangesluit en rig sedert 2006 die klub se eerstespan af.
Die afkortings ‘FACT’ het ’n baie groot betekenis vir die rugby-liefhebber en dit is juis dit wat hy gebruik wanneer hy ’n span kies, “Daar is nie ’n Afrikaanse manier om dit uit te druk nie ‘fitness, attitude, communication, and tenacity’ dit is my maatstawwe.”
Willie is opgewonde oor die Cell-C Gemeenskapsbeker-reeks en deel sy voorspellings, “My geld is op College Rovers as die ‘dark horse’, maar ek glo Pretoria Polisie en Impala gaan dalk die finaal speel met Polisie ’n kort kop die gunsteling.”
Daar is ook ’n ander kant van Willie waarvan baie nie weet nie, hy is lief om op sy kitaar te tokkel. Tyd in die bos, ’n kampvuur en sy gesin maak hom gelukkig.

Hy en Deidre is al 13 jaar lank getroud en hulle twee ‘kuikens’ WJ (8 ) en Wildré (10).
En ’n rugby-weduwee is Deidre beslis nie, sy en Willie deel hul liefde vir die sport en as daar rugby gekyk word, sit hy en Deidre nie om dieselfde vuur nie, “Sy is ’n Cheetah, maar gelukkig is ek darem lief vir haar.”
“My vrou-lief verdien bekers, medaljes en baie blomme vir al die tyd wat sy saam met my langs die veld spandeer. Aan die anderkant sy is darem maar gelukkig want dis sy wat saam met die ‘coach’ op die hoenderstellasie klim,” het hy geknipoog voor hy met sy kenmerkende stappie weer veld toe ‘hardloop’ fluitjie in die mond besig om die volgende generasie rugby-legendes af te rig.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Witbank Nuus se webwerf:
Witbank Nuus

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
Is jy passievol oor jou gemeenskap? Teken in op ons splinternuwe nuusflitse. Stuur ‘n boodskap op WhatsApp met jou ‘Naam en Van’ na
082 955 7201 of teken aan op BBM 7F6C00F om jou nuusflitse gratis te ontvang.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Back to top button