‘Ons bouplanne is lank terug al goedgekeur’

Met ’n koppie stomende warm koffie in die hand groet Ben Bierman almal wat hom herken in die Wimpy, met ’n oop vriendelike glimlag.

Na 35 jaar by die Emalahleni Plaaslike Munisipaliteit het hy afgetree.
“Noudat ek op pensioen is, nou kry ek kans om al hierdie mooi raak te sien en God se skepping ten volle te geniet,” het Ben gesê.
Almal wat Ben ken, weet hy is die man wat bouplanne kan teken.
“Ek het al opgehou tel hoeveel bouplanne ek al geteken het,” het hy vertel.

Die lagplooitjie som sy oë steek sy ouderdom weg, maar hy het laat glip, “Ek was in Augustus 65 jaar oud gewees.”
Soos almal in die ou dae moes Ben ook weermag toe gaan. Hy het vertel hy was baie gelukkig en moes eers in Junie aanmeld. Hy het intussen ’n pos by die poskantoor in die Wes-Transvaal in Wolmaransstad gekry, voordat hy lugmag toe is.
“Jy weet daai tyd was die ‘army’ soldy maar min. Ek het nie gerook en gedrink nie, maar het al my geldjies meestal gebruik om te gaan fliek,” het hy in herinneringslaan gewandel.

Nadat hy ’n drie jaar by die poskantoor hoofkantoor in Pretoria gaan werk het, het hy die advertensie raakgesien vir ’n pos as ’n junior klerk by die destydse Witbank Stadsraad.
“Ek het vier jaar hier gewerk toe gaan ek weer Pretoria toe. Ek het my huis hier agtergelaat en in ’n ou woonstelletjie gaan bly. Dit was nie lank nie toe verlang ek terug.”
In September 1978 het Ben weer by die stadsraad aangesluit.
Die bouplan getekenry het toe in daardie tyd in die wegspringblokke beland.
“Ek het aangebou en is na oorlede Frank Smit toe wat toe die bouinspekteur was. Hy het voorgestel ek teken self en vir my kort notas gemaak. Dis hoe die gogga eintlik gebyt het,” het Ben vertel.

In 2006 het hy by die Suid-Afrikaanse Raad vir die Argitektuurprofessie geregistreer en woon nog steeds werkswinkels by en lees enige skryfmateriaal oor die nuutste tendense in die boubedryf wat veral fokus op ‘groen’ huise.
“Ons wêreld is kwesbaar, ons kan dit nie meer ignoreer nie. As jy ook jou deel vir bewaring wil doen, is daar geen beter plek om te begin as jou eie huis nie.
“Deesdae is daar meer eko-vriendelike bou opsies as voorheen beskikbaar. Ook gebruik meer argitekte, ingenieurs en bouers vandag ontwerp en konstruksie tegnieke wat juis in reaksie op ‘n wye besorgdheid oor die omgewing ontwikkel is.”
Hy het gesê eMalahleni het té vinnig uitgebrei en daarmee bevestig wat almal al weet, die infrastruktuur het nooit saam met die stad gegroei nie.

Na ’n lekker saamgesels oor ontwikkelinge wat soos paddastoele oral oor opskiet is, het Ben darem bietjie meer vertel van sy plaas waarop daar twee natuurlike watervalle is.
“Dis net sowat 100hektar doer tussen Machadodorp en Lydenburg. Daar het ek so ’n paar beeste en ook forel. Oor die skape praat ek nie eers nie. Hulle is deur ’n luiperd gevang. Dit is ’n mannetjie wat so elke drie maande sy verskyning maak.”
Hy het ook opgewonde vertel van die Growweblaarkatsnorbos (Rotheca myricoides) wat op die plaas groei. Dit word gereken as een van die grootste van sy spesie in die land.
“Almal was so opgewonde oor die vonds dat ons ook sommer meer oor bome begin nalees en ook ’n boek oor bome aangeskaf het.”
Die huis op die plaas het Ben saam met twee handlangers self gebou.
Hy en sy vrou, Dina behoort al vanaf 1992 aan die Hoëveldse Karavaanklub.
Die entoesiastiese kampeerders het toe begin om tydens die kamp-naweke te begin stap en hul kilometers neergeskryf. Ben het al sowat 900km agter die rug.
“Jy dink jy het probleme, so tussen die stappery gesels die mense dit is wanneer jy besef hoe gelukkig jy is.”
Op sy dag het Ben vir Wes-Transvaal op vleuel uitgedra. Hy het vertel hulle was nege seuns en een dogter.
“Ja, ons broers het ‘ball-sense’ gehad. Maar moenie dink ons kon net rugby speel nie. Ons moes help om die jonger kinders groot te maak, ons moes help huis skoonmaak en ook kos kook.”
Dina en Ben is nou al 44 jaar lank getroud. Hy het haar beskryf as sy vrou, vriendin en sielsgenoot. Die egpaar het net een seun, Henri wat vanjaar 43 jaar oud word.

“Ek en Dina, ons neem saam besluite. Die bouplanne van ons lewe is lankal goedgekeur deur die genade van Jesus.”
“Aftree, watwou dis nie in my woordeskat nie. Daar is wel byvoordele, jy betaal byvoorbeeld nie as jy aansoek doen vir die nuwe identiteitskaart nie,” het hy diep uit sy maag uit gelag.
“Met die pensioen-ding is ons twee weke hier, twee weke doer en as die maand vyf weke het vat ons die ‘caravan’ en val in die pad.”
Oud word is net twee woorde wat geen betekenis vir Ben het nie, hy is nog jonk van gees en daar lê nog baie bouplanne wat hy moet gaan teken.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version