Local newsNews

Joost, jy is ’n ‘hero’

“As ek oorlog toe moes gaan, sou ek Joost aan my sy wou hê.

Dis hy wat tot op die laaste nippertjie sal veg vir wat vir hom belangrik is,” die woorde van Adriaan Richter, Springbok-agtsteman van Noord-Transvaal is met kopknikke en ’n luide applous ontvang.

“Jy is my nommer nege en my ‘hero’,” het Adriaan vol emosie gefluister.
Joost van der Westhuizen was die eregas tydens ’n funksie wat Donderdag 26 Maart deur Ferro’s Rugbyklub aangebied was.
Skadu’s van hartseer het Joost se heldergroen oë verdoesel toe hy moeisaam met die gehoor gepraat het.
“My grootste wens is om nog net een keer twee meter te kan loop,” het hy by monde van sy tolk, Johan Visser gesê.
Joost het pa’s aangemoedig om huistoe te gaan en tyd te maak om saam met hul seuns te gaan bal skop en met hul dogters te gaan gesels.
Blink strepe oor die wange van die in die gehoor het hul eie verhaal vertel van hoe Joost mense se harte aanraak.

Die Springbok-rugbyheld leef elke dag met die gedagte dat vandag sy laaste kan wees, nadat motorneuronsiekte in 2011 by hom gediagnoseer is.
Behalwe vir Adriaan het Casper Steyn, Krynauw Otto en Werner Swanepoel ook staaltjies van Joost kom deel.
Werner, oud-provinsiale en -internasionale rugbyspeler wat 43 toetse in die Groen-en-Goud gespeel het was een van Joost se skrumskakel-maats.
Hy het vertel hoe Joost sjampoe in sy rugbytokse geplaas het voor ’n wedstryd. Hy het tussen die lagbuie deur onthou hoe hy so gly-gly moes speel.

Die Spook van Loftus, Casper Steyn het bewonderend vertel hoe hy as ‘youngster’ saam met die legende geleer en gespeel het.
“Ons het altyd gesorg dat ons naby Joost-hulle was as hulle na ’n wedstryd uitgegaan het. Hulle het die meisies gekry,” het hy sy herinneringe van Joost gedeel.
Casper, oud-heelagter van die Blou Bulle en voormalige kaptein van die Pumas was ’n paar jaar gelede in ’n ernstige motorongeluk beseer. Hy het egter ten volle herstel.
“Joost en Johan, meer as dankie vir die ongelooflike voorreg wat julle Ferro’s Rugbyklub en eMalahleni se mense gegun het. Ons lewens is verryk, ons traankliere geolie en ons lagspiere het ’n behoorlike ‘work out’ gehad. Joost jy is awesome!” het Willie Oosthuizen, afrigter van Shumba Ferro’s gesê.

Pieter Koen het die aand verder ingekleur met musiek, terwyl die manne nog lank en lekker saam gekuier het.

Fotos van die aand:

Back to top button