Appelliefie onder die appelkoosboom

“Dis Vente sonder die ‘r’,” sal Tannie Kotie vining regstel wanneer mens haar van uitspreek.

Die naam is Hollands, vertel Tannie Kotie, en is nie sommer ’n alledaagse familienaam wat mens sal hoor nie.
Dan is dit mos nou ’n naam wat by Tannie Kotie pas, want sy is ook nie jou alledaagse inwoner by ’n ouetehuis nie. “Dié jaar in Oktober is ek 91 jaar oud,” vertel Tannie Kotie met ’n groot glimlag wat die lagplootjies langs haar oë duideliker maak. Haar geheue is nog vlymskerp, veral wanneer dit by datums kom en sy onthou al haar vrinne by Edenpark se verjaarsdae.
Tannie Kotie het jare gelede by Edenpark Ouetehuis haarself kom tuis maak na jare op Jakkalsfontein in Cullinan. “Na my man oorlede is, is die plaas waar ons vir so lank gebly het verkoop.”

Tannie Kotie is in 1924 op Naauwpoort gebore en het ook in Witbank skoolgegaan. “Ek het by Hoërskool Generaal Hertzog my skoolloopbaan voltooi en baie van my kinders en kleinkinders was ook in die skool,” vertel Tannie Kotie trots.
Oor Tannie Kotie se kinders, kleinkinders en agterkleinkinders kan sy baie vertel. Van die prokureur, onderwyseres, argitek tot die pastore kry elk ’n storie wat saam met die naam en gesig op die foto’s gaan, wat teen Tannie Kotie se kamermuur staan en glimlag.
Tussen die foto’s op die muur, hang daar ’n ou portret reg bo Tannie Kotie se bed. ’n Deftige man aan die sy van sy stralende bruid. “Ja ek was toe ’n mooi meisie en kêrels het toe tou gestaan vir my,” vertel Tannie Kotie laggend wanneer sy terugdink aan haar jonger dae.

Soveel jare gelede, toe haar pa hul nog met ’n perdekar aangery het kerk toe, het sy vir Albert by die Hervormde Kerk (toe nog in Old Corronation) ontmoet. “Dit was die jaar wat ek aangeneem en voorgestel is.”
Tannie Kotie onthou hoe sy en die ander jong mense speletjies gespeel het, die een genaamd: ‘Swartvark’. “Ons het mos nou nie TV en sulke goed gehad desjare nie, so dan het ons maar speletjies gespeel,” vertel sy verder. Tydens die speletjie, Swartvark, het jong Kotie in die speelse ‘pit’ geval waaruit sy net kan kom as een van die kêrels haar soen.

Albert het haar toe gevang met een kus en na vier jaar is hul getroud.
Tannie Kotie spog vandag met vier kinders, agt kleinkinders en sewe (die sewende een net onlangs gebore) agterkleinkinders.
Tannie Kotie praat van ’n geseënde lewe saam met haar familie. “Die Here is goed. Die Here was goed vir my en my familie.”
Sy onthou net die goeie dae in haar verlede. Lewe op die plaas. Konfyte gemaak van die vrugte wat sy self gepluk het uit hordes vrugte bome. Kleinkinders se drukkies. Liefdevolle herinneringe.

In haar gedagtes, sit Tannie Kotie weer onder haar gunsteling boom op die plaas. Dié ou appelkoosboom was die oudste op die plaas. Oud ja, maar het ook die beste vrugte gedra.

Appelkose, appels en appeliefies vir hierdie geseënde ma, ouma en oumagrootjie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version