CrimeNews

Rowers soos ’n ‘plaag’ in die onderdorp

Polisie waarsku lede van die gemeenskap om op die uitkyk te bly vir verdagte persone, na menige sake aangemeld is verlede week waar gewapende rowers toegeslaan het.

Saterdag 14 Maart het ’n man vertel hoe twee rowers hom langs die pad gestop het om sy selfoon te steel. Die man het glo huis toe geloop en was naby die N4 hoofweg toe die rowers hom voorkeer. Hy het aan polisie verduidelik hoe die een verdagte ’n mes teen sy keel gehou het, terwyl hul hom deursoek het. Die verdagtes kon net ’n selfoon in sy besit vind waarmee hul toe gevlug het.

Dié geval was soortgelyk aan ’n saak wat die vorige dag by die Witbank Polisie aangemeld is. Op Vrydag 13 Maart is ’n man van sy besittings beroof in Mainstraat na twee rowers hom ook te voet betrap het in die straat en ook soos met die vorige geval, ’n mes teen sy keel gehou het.
Omstreeks 14:30 dieselfde dag is ’n 57-jarige man in Walter Sisulustraat ook beroof. Mnr. Andries Venter het vertel hoe hy langs die pad gestaan het en hout verkoop het toe twee mans hom genader het.

Een van dié mans het ’n mes uit sy sak gehaal waarmee hy Venter gedreig het.
“Ek het niks geld by my gehad nie, en hulle het toe net my selfoon gevat,” het Venter gesê. Hy het die saak by die polisiestasie gaan aanmeld. “My seun sal die twee verdagtes kan uitken.”
Slaggoffers van misdade in die Sentrale Besigheids Distrik (SBD) meen dat diewe en rowers soos ’n ‘plaag’ is wat oorneem.
Mense wat daagliks moet loop van hul huise na hul werksplekke in die dorp stel hulself in gevaar en klein entrepeneurs, soos Venter, wat afhanklik is van ’n klein inkomste, kan ook nie veilig voel op straat nie.

Polisie maan dat alle sake van diefstal en misdaad aangemeld moet word sodat probleem areas geïdentifiseer word en meer gepatrolleer word.

Back to top button