Francois het sy vlerke gekry

Verslae leerlinge, ouers, onderwysers van die Hoër Tegniese Skool (HTS) is ontroosbaar na die dood van ’n 17-jarige leerder van die skool.

Francois Clarence (17) is Dinsdag 17 Maart in Life Kosmos Hospitaal dood nadat hy vroeër die dag deur weerlig raakgeslaan is.
Daar is tevergeefs om sy lewe geveg en hy is net na 22:00 dood.
Die fratsongeluk het omstreeks 14:45 op die skool se A-rugbyveld gebeur. Francois en die res van die eerste hokkiespan is van die veld afgeroep en was oppad paviljoen en kafeteria toe nadat swaar weer vinnig opgesteek het.
’n Weerligstraal het Francois getref.

Francois Clarence (17) is dood nadat weerlig hom raakgeslaan het.

Die span was veronderstel om die middag ’n wedstryd teen Potchefstroom te speel.
Ambu-Training personeel, wat vir die skool bystand gedoen het tydens die hokkiewedstryde, het dadelik met noodbehandeling begin.
Kort nadat een van die kantoorpersoneel om hulp geroep het oor die Zello-kanaal het Langamed Ambulansdiens op die toneel opgedaag en ook noodbehandeling begin toepas.

Hulda Kunz, Francois Clarence se hokkie-afrigter word by Life Kosmos Hospitaal deur ’n vriendin getroos.

Hulle het Francois na Life Kosmos Hospitaal toe geneem en hy is in die intensiewe-sorgeenheid geplaas.
Later die aand het mense voor die hospitaal se ingang bymekaargedrom en gebede vir die jong man het opgeklink.
Op sosiale netwerke is gebedsgroepe begin en ’n gemeenskap het hande gevat en die jong seun en sy familie aan Jesus opgedra.
Woensdagoggend is daar ’n minuut stilte vir Francois by die skool gehou waar hy ’n gewilde leerder en sportman was.
Mnr. André Strydom, hoof van die skool het beraders ingebring om leerders te ondersteun.

Strydom het moeg en hartseer gesê Francois was net ’n plesier gewees.
“Dit was ’n eer om die jong man in ons skool te kon hê. Om hom te beskryf is maklik, noem net die woorde vriendelik en glimlag en jy beskryf Francois. Die seer sal nie gou weggaan nie, hy sal deur almal in die skool gemis word.”
Eenkant het ’n groep seuns in hul spanklere gestaan. Hulle het dit spesiaal ter ere van Francois aangetrek.
‘Gravy’ soos hy deur sy spanmaats gedoop is, se plek is leeg in die span, maar die span se harte is vol want Francois het hulle almal se lewens verryk in soveel opsigte.
Gebede vir Francois Clarence het van oral af ingestroom.

Francois se broer, Pieter, het vroeg Woensdagoggend gesê die familie kry baie swaar.
“Francois was ons sonappeltjie, hy gaan baie gemis word …”
Francois laat sy pa mnr. Wynand en sy ma me. Erika Clarence en twee broers Carel en Pieter agter.
Sy begrafnisreëlings was teen druktyd nog nie beskikbaar nie.

Previous updates:
Video: First team hockey player struck by lightning
Video: Community mourns the death of Francois
Gebede vir Clarence-gesin

 

Exit mobile version