Man beroof deur ‘kliënt’

Diensverskaffers moet nou ook oplettend wees vir rowers wat voorgee om kliënte te wees.

Mnr. Richard Grové, van ’n diensverskaffer wat netwerk- en sekuriteitkameras installeer, is Woensdag 11 Maart beroof na hy ’n ‘kliënt’ na sy huis toe sou neem waar sy dienste glo nodig was.

“Ek het ’n oproep gekry van ’n man genaamd Gawie,” het Grové vertel. Dié ‘kliënt’ het glo gevra dat iemand moet uitkom na sy huis om sy netwerk te installeer. “Hy het gesê dat daar iemand vir my sou wag by die garage langs die Sun 1 Hotel wat my dan na sy huis toe sal vat.”
Niksvermoedend het Grové, omstreeks 10:30, die verdagte by die vulstasie ontmoet. Die man het saam met hom in die voertuig geklim en hom beduie na Eadiestraat en toe na ’n agterstraat wat uit die oog van die verkeer was, voor hy toe glo ’n mes uit sy sak gehaal het.
“Hy het die mes hier agter teen my rug tussen my ribbes gedruk en gesê om net daar te stop.” Grové vertel hoe die man toe sy sak waarin sy skootrekenaar, tablet, selfoon en beursie was gegryp het, sowel as die sleutels van die voertuig wat hy toe uit die motor uit gegooi het voor hy met sy buit gevlug het.

“Ek het die sleutels van die grond af opgetel en toe ek opkyk was hy weg,” het Grové gesê.
Van die kliënt, ‘Gawie’, was daar niks meer te hore nie en was die nommer waarvan hy geskakel het nie-werkend na die voorval.
Grove het onmiddellik die saak aangemeld by Witbank SAPD. “Ek het vir hul die reeksnommers van my skootrekenaar en tablet gegee, maar nog sover geen inligting gekry of hul dit kon opspoor nie.”

Die verdagte kan geïdentifiseer word. Geen arrestasies is tot dusver gemaak nie.

Exit mobile version