CrimeNews

Video: Deur rowers oor die kop geslaan

“Witbank 911 en my bure is tops!” Mnr. Alex Louverdis het net lof vir die Witbank 911 Zello-groep en sy bure.

Was dit nie vir hulle nie het die rowers wat Donderdag 5 Februarie in sy huis gaan ‘kuier’ het alles weggedra.
“Dit was seker drie minute nadat my buurvrou vir hulp oor Zello geroep het, toe stop Witbank 911 se manne hier,” het Louverdis vertel.
Die buurvrou, me. Corrie Sevenster het beweging by Louverdis se huis opgemerk en omdat sy weet haar bure is by die werk het sy die beweging baie verdag gevind.

Dis toe ’n motor in trurat in Louverdis se oprit ry dat sy besef het iemand is besig om in te breek.
“Ek het my buurman, André Harmse dadelik gebel. Hy is so ’n held. Sonder om twee keer te dink het hy oorgestap om te gaan kyk wat aan die gang is,” het Sevenster bewend gesê.

Toe die rowers Harmse gewaar het hulle, hul vuurwapens op hom gerig en oor die kop met een van hulle vuurwapens se kolwe geslaan.
“Hulle het my vuurwapen gesien en dit uit my sak geruk en gevlug,” het ’n bloeiende Harmse gesê.
Sevenster wat die hele petalje dopgehou het, het oor die Zello-groep vir hulp geroep. Binne minute was almal in Panoramastraat waar dit gebeur het.

Harmse is op die toneel deur Langamed Emergency Management behandel.
Hy is hospitaal toe waar hy sewe steke ontvang het om die wond aan sy kop te heg.
Hy wag vir ’n tandarts afspraak want van sy tande is gebreek toe hy oor die kop geslaan is.

Louverdis het gesê die rowers het net hul ‘playstation’ en ’n paar kleiner items gesteel.

Check Also
Close
Back to top button