Been vat vlam in hospitaal

’n Man is oorgeplaas van Bethal Hospitaal na Witbank Hospitaal vir behandling aan sy been, maar hy is daar uit met eerste graad brandwonde op sy arm, hande en agter sy been.

Mnr. Danie Annandale (36), ’n inwoner van Secunda, het sy been seergemaak en toe hy by Bethal Hospitaal kom het dokters daar vir hom gesê sy knie is af.

Hy is oorgeplaas na Witbank Hospitaal. Hiér is hy in ’n saal gesit waar die verpleegpersoneel begin het om sy been reg te kry vir gips.
Terwyl die suster besig was om die verbande om sy been te sit, het sy gegrap dat sy die been aan die brand gaan steek.
Na die derde keer dat sy met die sigaeretaansteker gespeel het, het die verbande om sy been vlam gevat.
Die suster het na bewering uit die kamer gehardloop toe sy sien wat gebeur het. Daar was ook ’n manlike verpleër in die saal wat glo net gestaan en kyk het, sonder om te help.

“My seun het die verbande afgehaal het, omdat die susters te geskok was om te help,” het Annandale gesê.
Annandale het eerste graad se brandwonde op sy hande en arms opgedoen en sy seun mnr. Jarrod Swart het ook ligte brandwonde aan sy vingers opgedoen.

Later het die suster teruggegaan na Annandale en verskoning gevra. Sy het gesê dat nie weer grappies sal maak nie.
Nadat die voorval gebeur het, het die susters nuwe gips aan sy been gesit en Annandale is huis toe gestuur. Hy moet teruggaan op 13 Februarie vir ’n operasie aan sy knie.
“Dit was nie net ’n grap nie, my hand is nou beseer, ek sukkel om my vingers te buig,” het Annandale gesê.

Annandale het sy eie paneelkloppers-onderneming in Secunda. “Ek verloor inkomste nou,” het hy gesê.
Die matrone en ’n dokter het ook later om verskoning gevra.
Annandale beplan om die saak verder te vat nadat die operasie verby is en hy weer op die been is.

Die Departement van Gesondheid is genader vir kommentaar, maar teen druktyd is niks nog ontvang nie.

Exit mobile version