Vrou aangeval, gesleep en gebrand met sigaret

Daarna het hy ’n mes gevat en haar oor haar maag en bene gesny.

“Mamma, ek is bang. Hy het my seergemaak….”
In plaas van ‘Hallo Mamma, hoe gaan dit vandag’, is dit die woorde wat soos dolke in me. Annatjie Spencer se hart steek.
Haar 33-jarige dogter het in ’n hangkas weggekruip en die eerste nommer wat sy geskakel het, na die sinnelose en wrede aanval op haar minute tevore is die van haar ma.

Spencer het gesê haar dogter, wat anoniem gehou word omdat sy vrees dat haar aanvaller sal terugkom, was Maandag 26 Januarie afgeboek en het by die huis gebly vir die dag.
Die verdagte het dit reggekry om hul boerboel in sy hondehok vas te keer en ’n asblik voor die hok te sit sodat die hond nie kon uitkom nie.
“Hy het die huis ongehinderd ingegaan en my dogter helder oordag oorval,” het Spencer vertel.
Die verdagte het die angsbevange vrou onverhoeds betrap en met ’n baksteen teen die wang geslaan.

Die gebeure wat daarna gevolg het laat mens onwillekeurig trane in die oë kry.
“Hy het ’n stuk tou om haar nek vasgemaak en haar deur die huis gesleep. Die ding het rustig sy gang gegaan, water gedrink, my dogter se sigarette begin rook asof hy al die tyd in die wêreld het.”
Vir die vrou was die nagmerrie nog nie verby nie. Die verdagte wie sy gesig met ’n balaklava bedek het, het haar op haar hande met die sigarette gebrand. Daarna het hy ’n mes gevat en haar oor haar maag en bene gesny.
“My dogter het die mooiste blou oë en hy het die glans uit haar oë ‘gesteel’. Sy het in die hospitaal gesê hy het in suiwer Afrikaans vir haar gesê sy het die mooiste oë en hy gaan dit uitsny. Terwyl hy haar met die mes gesny het, het hy oor en oor gevra waar sy nog gesny wil word?”
Spencer het gesê haar dogter het die ergste verwag toe die verdagte vir haar sê om op die bed te klim en hy ’n kussing oor haar gesig gedruk het.
“Sy het asemloos gewag en gebid. Dis toe sy hoor hoe hy uit die kamer uitstap. Sy het haar kans waargeneem en in die hangkas gaan wegkruip en my gebel.”

Polisie en Witbank 911 lede buite die huis waar die aanval plaasgevind het in Uitbreiding 16.

Spencer het onmiddellik die Zello-groep Witbank 911 geroep en haar skoonseun gebel.
“Die boodskap dat sy aangeval was, was skaars oor die lug geroep toe stop die reaksiespan daar. My skoonseun was kort op hulle hakke,” het Spencer gesê.
Die rustige straat was gou ’n miernes van bedrywighede. Witbank 911 het die area fyngekam opsoek na die verdagte wat beskryf was as kort en fris, maar dit was tevergeefs. Die verdagte is nog soek.

Langamed Emergency Management Services, wat ook deel van Witbank 911 is, het die vrou op die toneel behandel en na Witbank Hospitaal geneem.
“Alles by Witbank Hospitaal het gesloer, hulle kon my kind nie help nie.”
Spencer het haar dogter toe na Emalahleni Private Hospital geneem waar sy behandel is.
Sy is dieselfde aand ontslaan.
Dit is nie die eerste keer dat die vrou aangeval is nie. Vier jaar terug is sy by ’n bekende laerskool aangeval, terwyl sy vir haar seuntjie by die skool gewag het.
“My kind is ’n sterk vrou. Sy sal oor die ding kom, sy sal nie gaan lê nie,” het Spencer geprewel en in die dieselfde asem gesê, “God se engele het ’n laer om haar gevorm en haar veilig gehou …”

Exit mobile version