Engele red baba-dogtertjie

Die klein mondjie wys spierwit tandjies soos sy glimlag. Haar ogies blink en haar lyfie is weer vol energie.

Danksy haar mense-engele kon Adeley Woensdag 28 Januarie haar 22ste maand saam met haar Mammie spandeer.
Jessica Botes se gesig straal van verligting. Die lig in haar lewe, klein Adeley, is weer veilig terug by die huis. Na ’n nagmerrie voorval laas week, toe sy byna haar babadogtertjie verloor het, kan Jessica net dankie sê aan engele van eMalahleni wat haar in haar nood bygestaan het.
Op Vrydag 23 Januarie omstreeks 16:40, vertel Jessica, het sy vir Adeley by die kleuterskool gekry. “Sy het koors gehad,” verduidelik Jessica en vertel hoe die koors baie vinnig baie erger geraak het toe hul oppad terug huis toe is.
“Ek het by die verkeerslig naby Brazen Head gestop toe sy koorstype kry…” het Jessica die voorval herroep. “Toe ek in die spieëltjie agter my kyk sien ek net hoe sy ruk en haar oë omdop.”

Jessica het blitsvinnig gestop, en haar kind uit die kar gehaal om op die grasperk langs die pad neer te lê. Paniek en angs het dié ma byna histeries gehad. “Gelukkig het die man wat agter my kar gestop het dadelik uitgeklim om te kom help.”
Jessica herroep net hoe die angs soos ’n swaar kombers om haar toegvou het toe haar kind verander van kleur en haar gesiggie pers geword het.

Nog mense, onbekende gesigte, het gestop om te help.
“Sy is mond tot mond asem gegee…” het Jessica vinnig vertel. “Toe kom daar ’n swart man wat sy hand neerlê op haar bors en hy begin toe vir haar bid… sy het toe net daarna begin opgooi en het weer asem gehaal.” Jessica het hierdié wonderwerk deur trane beleef.
’n Gesig wat Jessica ook nooit sal vergeet, was die van Freda Smit. “Ek dink sy was oppad na die gym toe…” onthou Jessica. “Sy was die een wat Witbank 911 daar geky het en die ambulans ook gebel het.”

Adeley se redding-span.

Jessica vertel dat Langamed Emergency Management binne minute op die toneel was om vir Adeley die nodige suurstof te gee.
“Al het ek nie medies nie het ek nog steeds gevra dat hul my kind Life Kosmos Hospitaal toe moet neem.”
Al het Jessica nie geweet of sy die onkostes van die hospitaal sou kon dra nie, was haar kind op daardie oomblik haar enigste kommer.
“Sy is die aand opgeneem met mangelontstekking.”
Danksy die noodspan en die barmhartige Samaritane wat tot Adeley se redding gekom het, kon Jessica haar kind weer gesond terug by die huis kry.
“Ek is so baie dankbaar vir die mense wat gehelp het. Bruce van Witbank 911. Die nooddienste, veral Phillip van Langamed…”
Jessica bedank ook haar dierbare engel, Freda, wat ook van die hospitaalkostes help dra het.
Die ander engele wat ongenoemd bly, wat Jessica in haar grootste nood bygestaan het… die ware Engele van eMalahleni… sal altyd in dié ma se gedagtes bly en onthou word as die helde wat Adeley ’n tweede kans gegee het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version