Christine tweede beste in Mpumalanga

“We did not come this far to be breakfast.” Dit is die motto van Gauteng se top-presteerder vir 2013 wat Christine Graham geïnspireer het op die dae wat sy wou moed verloor.

Christine Graham van Hoër Tegniese Skool is Dinsdag aangewys as die tweede beste matrikulant in Mpumalanga en is natuurlik ook HTS se top matrikulant met ’n allemintige nege onderskeidings en ’n 94% gemiddeld. Christine het onderskeidings behaal in Afrikaans, Engels, Wiskunde, Fisiese Wetenskap, Lewenswetenskap, Lewensoriëntering, Rekeningkunde, RTT en Toegepaste Wiskunde.

Christine sê sy’s baie gelukkig met haar uitslae en baie dankbaar vir haar Godgegewe talente. Haar vriende, familie en onderwysers het haar deur haar matriekjaar en eindeksamen gedra.
Christine sê sy’s baie dankbaar vir die bekers tee wat haar ma, Ina Vorster en jonger sussie, Alexandra aangedra het. Sy en elke matrikulant van HTS sal nooit vergeet hoe me. Lienie Botha, adjunkhoof van HTS, hulle ondersteun het deur die jaar en gesorg het dat die eksamen georganiseerd en suksesvol verloop het nie.

Nie net was Christine onderhoofmeisie van HTS, maar sy was ook die skool se eerstespan hokkiekaptein, tenniskaptein en kranige atleet. Christine het in die middel van die jaar ’n baie moeilike tyd deurgemaak met breinontsteking en moes haar halfjaar eksamen misloop en die helfte van die hokkie-seisoen uitsit. Sy het as kaptein haar span pligsgetrou van die kant af ondersteun en was ’n inspirasie vir haar spanmaats.
“Christine se kalmte, deursettingsvermoë en positiewe gesindheid in alle omstandighede maak haar ’n mens na wie selfs ek opkyk,” sê me Adri Minnaar, eerstespan hokkie-afrigter van HTS.

Christine volg in haar ma se voetspore en gaan vanjaar medies in Stellenbosch begin studeer. Sy het medies gekies omdat sy op diè manier haar talente kan gebruik om mense te help.

HTS is trots op hierdie spog-matrikulant en wens Christine voorspoed toe met haar studies!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version