Twee gearresteer vir 68-jarige se moord

Twee mans het vroeër die week in Witbank Landdroshof verskyn na die gru-moord op die 68-jarige mnr. Antonie Grobler.

Grobler is op 6 Januarie in sy huis in Uitbreiding 10 aangetref met 13 messteekwonde in sy bors.
Die twee verdagtes wat Maandag 12 Januarie verskyn het is steeds in aanhouding. Hulle sal weer op 19 Januarie verskyn op ’n klagte van moord.

Beide mans is op 10 Januarie gearresteer.
Een van die verdagtes het sy ma, ’n vriendin van Grobler, gebel en gevra vir geld vir kos. Sy het hom oorreed om huis toe te kom nadat die man as verdagte deur die polisie geïdentifiseer is.

Sy het hom en sy vriend, die tweede verdagte, in Springs opgelaai en na eMalahleni gebring. Toe hulle by die Sasol garage in Klipfontein stop, het die polisie hulle ingewag.

Die Hyundai Atos waarin die verdagtes gevlug het, is in Springs teruggevind nadat die opsporingstoestel geaktiveer is.
Kapt. Eddie Hall, polisiewoordvoerder het gesê ’n derde verdagte is steeds soek. Enige persoon met inligting kan die ondersoekbeampte a.o Johannes Simelane skakel op 078 167 9342.

Grobler is Maandag 12 Januarie veras.

Exit mobile version