Hande en voete vasgebind en 13 keer gesteek

’n 68-jarige man is vroeër die week wreed in sy meenthuis vermoor.

Mnr. Antonie Grobler se liggaam is toegedraai in sy bed in sy meenthuis in Louis Trichardtstraat gevind.
Sy hande en voete was vasgebind en hy is 13 keer gesteek.

Die mes waarmee hy vermoedelik gesteek is, is langs sy bed gekry.
Die moord wat op 6 Januarie omstreeks 23:00 plaasgevind het, het die meenthuiskompleks in ’n somber wolk gehul.
Bure het verbaas rondgestaan en probeer sin maak uit die moord.

Me. Corretta Kent, een van die bure, het genoem dat niemand iets verdag opgemerk of enige vreemde geluide gehoor het nie.
Mnr. Quintin de Bruyn van Witbank 911 het gesê hulle het op ’n noodroep van Langamed Emergency Management Services gereageer om hulp by die huis te gaan verleen.
“Toe ons by die huis aankom was die deure gesluit en nadat ons verskeie kere geklop en geroep het, het ons die voordeur oopgebreek. Dis toe dat ons oop mnr. Grobler se liggaam afgekom het,” het De Bruyn vertel.

’n Baie emosionele me. Sarie Swanepoel, wat saam met Grobler gewoon het, het gesê sy het die nooddienste geskakel nadat sy ’n oproep van ’n onbekende nommer ontvang het.
“Die persoon het net gesê ‘Phone the ambulance and the police there is problems at your house’. Ek het dadelik geweet iets het met Antonie gebeur,” het Swanepoel gesê.

Sy en Grobler ken mekaar al agt jaar en sy het die afgelope jaar by hom gewoon.
Sy het verlede Woensdag by haar dogter ingetrek nadat Grobler haar gevra het om uit te trek.
“Ons sou getrou het, maar Antonie het die lewe vir my ondraaglik gemaak. Na die laaste onderonsie het ek net besluit dat dit die beste sou wees as ek uittrek,” het sy gesê.

Volgens Swanepoel is die huis se sleutel binne gevind en vermoed sy dat die verdagtes toegang deur die motorhuis verkry het.
Die ongemaklike stilte in die huis is verbreek deur die rou snikke wat deur haar lyf geskeur het.
Swanepoel het Grobler as ’n kluisenaar beskryf wat niemand naby hom toegelaat het nie. Hy was ’n pensioenaris wat voorheen op ’n myn gewerk het.

Al wat uit die huis vermis word is ’n radio, mikrogolfoond en Grobler se beursie.
Die verdagtes het in Grobler se Hyundai Atos gevlug.

Die voertuig is in Springs teruggevind deur middel van die opsporingstelsel in die voertuig.
Volgens die polisie in Springs het hulle drie verdagtes uit die voertuig sien spring.
Die verdagtes is nog soek.

Sersant David Ratau van Witbank Polisiestasie het bevestig dat die deure van binne gesluit was.

Exit mobile version