Inbrekers los meer skade vir skrootwerf

’n Dik laag wit stof het agtergebly na die verdagtes die kantoor se brandblusser in die hande gekry het.

Me. Annelize Pelser sug diep soos sy na die chaotiese wanorde om haar staar. Inbrekers het vroeg die jaar begin om besighede te teister en die Mafutha skrootwerf naby Vosman het nou ook vir die tweede keer deurgeloop.

Pelser het Donderdagmiddag 16 Oktober gewys hoe verdagtes, die vorige aand, vermoedelik toegang gekry het tot in die perseel na hul die slot van die veiligheidshek geknip het en hul weg deurgebreek het.
“Hulle het alles só agterna gelaat,” het Pelser verduidelik terwyl sy met haar hand beduie het na die skroot en metaal orals op die grond met rommel tussen in soos die verdagtes swart vullisbakke oopgeskeur het in hul verwoestende soeke na waardevolle items.

“Hulle het gereedskap gevat, veral die ‘cutting-blades’,” vertel Pelser. Al die voorraad was ook gesteel sowel as ’n skootrekenaar en drukker (printer).

In Pelser se kantoor het ’n dik laag wit stof gelê na die verdagtes ’n brandblusser glo in die vertrek leeg gemaak het. “Dit het dit vir die polisie toe onmoontlik gemaak om vingerafdrukke te kry,” het Pelser gesê.
Die res van die kantoor was omgedolwe en van die vensters en ruite was ook gebreek.

Pelser het vertel dat hul vier maande terug ook ’n saak van inbraak aangemeld het, na die boosdoeners deur die gebou se dak gebreek het. “Ons is steeds besig met herstelling na die vorige inbraak en nou het ons nóg skade.”
Pelser het genoem dat hulle van die goedere wat laas gesteel was kon terugkry, maar dat die verdagtes nooit gevang was nie.

Die onlangse inbraak word ook tans ondersoek.

Exit mobile version