Local newsNews

Kerspakkies vir ouetehuise

Vir die seniors is dit die hoogtepunt van hulle jaar – ‘n vrolike Kersparty en ‘n geskenkie uit die hart.

“Ons vra nie net vir bydraes nie; ons wérk vir ons deel,” sê Wilna Botha waar sy en haar mense op ‘n koue, winderige aand op ‘n oop stoep swoeg om pannekoek en ander eetgoed vir konsertgangers voor te berei. En dit boonop warm aanbied – hetsy voor die konsert of tydens pouse.

As sy sê: “Ons werk vir ons deel” is dit ‘n mondvol, want dié werkery geskied ná ‘n bedrywige Saterdagoggend in R5 Price Beat se winkel. Sy en haar mense is dan reeds ure lank op hulle voete; die kosprojek het trouens die vorige dag al begin.
Nadat die winkel gesluit is, begin hulle aanry na die TUT-kampus: tafels, gasstowe, mikrogolfoonde, panne, skottels, bakke, bestanddele, verpakkingsmateriaal en wat meer. Dan word die kos berei en verkoop, en laataand moet alles teruggery word – nadat daar opgeruim is waar hulle gewerk het.

Tydens Theuns Jordaan se konsert en Steve Hofmeyr s’n op 20 September het hulle kos en pannekoek verkoop. Dit is hulle finansiële inspuiting vir die Kersprojek van die vier ouetehuise – Huis Betsie Louw, Immergroen, Edenpark en MOTH Cottages.

R5 Price Beat se mense bak pannekoek op die TUT-kampus vir konsertgangers by Steve Hofmeyr se vertoning op Saterdag 20 September.
R5 Price Beat se mense bak pannekoek op die TUT-kampus vir konsertgangers by Steve Hofmeyr se vertoning op Saterdag 20 September.

Vir die seniors is dit die hoogtepunt van hulle jaar – ‘n vrolike Kersparty en ‘n geskenkie uit die hart. Nie uit mense se oorvloed nie, maar uit ‘n afknypgeldjie, en die werk van die winkelmense wat jaar na jaar dié liefdesdiens organiseer en vir die eetgoed by die partytjies sorg.

Die name van die oumense lê gereed. Kom kies ‘n naam en gee ‘n geldjie of ‘n geskenkie. Dié geskenkie kan jy elders koop of daar by R5 Price Beat.

Dié winkel lê aan Oppermanstraat en kan by 013 692 5981 geskakel word.
“Baie dankie byvoorbaat,” sê Wilna, maar waarsku ook dat die tyd min is. “Maak asseblief so gou moontlik ‘n draai sodat die projek kan begin.”

Back to top button