Editor's choiceLocal newsNews

CMR kort dringend fondse

Die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) staar ’n krisis in die gesig.

Die harde werklikheid is dat sonder die hulp van die gemeenskap bestaan die moontlikheid dat dié organisasie se deure sal moet toemaak.
Volgens die 2013/2014 se finansiële state het die CMR se totale uitgawes R2 664 945 beloop en afgesluit met ’n tekort van R266 059.  Die tekort vir 2014/2015 boekjaar is reeds R680 000.

“Ons finansiële ondersteuning het uitgebrei na die Departement van Maatskaplike ontwikkeling, ander kerke, besighede en individuele donateurs. Sonder elkeen van julle sou dit nie moontlik gewees het om ons dienste so ver te bring nie. Dit is egter vandag ’n werklikheid dat die CMR ’n groot finansiële  uitdaging in die gesig staar,” het me Annelize Aucamp van die CMR gesê.
Om `n blywende en lewensvatbare verskil te maak in die gemeenskap, verg nie net volhoubare dienslewering nie, maar ook finansiële bemagtiging. Die CMR het ongelukkig op `n plek gekom waar hulle nie meer op `n finansiële basis die verskil kan meebring soos wat hulle dit in die verlede gedoen het.

“Ons het die hulp van ons gemeenskap nodig. Die sosio-ekonomiese probleme wat ons vandag in ons gemeenskap vind is baie uiteenlopend in karakter. Die dinamika tussen oorsaak-effektiewe verhoudings is van so aard dat hulle koppel en inter-verantwoordelik is vir mekaar. Dit is dus nie net sekere gedeeltes van die gemeenskap se verantwoordelikheid om te help nie, maar dit is die verantwoordelikheid van die hele gemeenskap,” het me. Aucamp die situasie geskets.

Die CMR is die rugstring van die gemeenskap en net in die afgelope jaar het hulle 158 kinders in veilige sorg geplaas, 589 kinders in pleegsorg geplaas en 90 kinders in Kinder-en jeugsorgsentrums geplaas.
Van die hartseer waarmee hulle die jaar te doen gekry het was onder andere 27 kinders wat fisies en emosioneel mishandel was en 48 kinders wat seksueel gemolesteer was. Hulle het na 111 verwaarloosde en 27 verlate kinders omgesien en ouerleiding aan 437 ouers gebied.
Altesaam 962 kinders wat wees gelaat is as gevolg van HIV/AIDS is na alternatiewe sorg soos familiesorg, pleegsorg of kinder- en jeugsorgsentrums geplaas.

Tans hardloop die CMR verskeie projekte wat die welstand van die gemeenskap bevorder.
Die Rizpah-projek bestaan reeds vanaf 2005.  Daar is drie veiligheidshuise wat ses kinders per huis kan akkommodeer. Tussen die mure van daardie huise is hartverskeurende verhale aangehoor deur die 108 kinders wat reeds daar gehuisves was.
“Soms is daar geen langtermyn ouers wat na hierdie kindertjies kan omsien nie en word hul dan in ons twee pleeghuise geplaas. Ons kan ses kinders per huis akkommodeer en is daar tot op datum 10 kinders versorg. Dit beteken tot die kinders by hul ouers terug geplaas kan word of tot hul selfstandig kan funksioneer na hul 18 jaar oud geword het. Rizpah is afhanklik van die CMR vir sy voorbestaan en omgekeerd,” het me. Aucump vertel.

Dan is daar ook die Isibindi-projek wat ondersteuning bied aan kinders wat HIV/Vigs het of daardeur geaffekteer is. Isibindi bereik ongeveer 500 kinders waar 15 opgeleide versorgers hul binne gesinsverband ondersteun met die huishouding en huiswerk.
Die derde projek onder die CMR se vlerke is die kos en klere projek waar 246 mense al baat gevind het.
Laastens is die bewusmakingsprojek. Deur die projek is 1 500 kinders al bereik deur ’n poppekasvertoning by skole gedurende  Kinderbeskermingsweek.

In totaal is 6 078 mense in 2013/2014 deur direkte of indirekte intervensie bereik.
Die CMR wat vanjaar 60 jaar oud is, het destyds begin met een maatskaplike werker wat dienste regoor die provinsie moes lewer. En die enigste ondersteuning wat hulle toe gehad het was van die NG Kerk.
Vandag het die CMR die vrymoedigheid om die gemeenskap, besighede, kerke en individue uit te nooi om opnuut saam met hulle hande te vat en verantwoordelikheid te neem vir die eMalahleni gemeenskap.

“Ons wil hiermee `n beroep doen op ons gemeenskap en veral ons besighede om saam met ons `n pad te stap waar ons `n blywende verskil kan maak in mense se lewens. Ons het BE-EEE status en voldoen aan al die vereistes sodat ons vir jou `n SED sertifikaat kan uitreik. Met dit kan jy volpunte verdien op jou SEB-Telkaart en `n artikel 18A belasting-aftrekking vir jou donasie ontvang,” het me. Aucamp gesê.
Die personeel en vrywilligers by die CMR werk hard om fondse te in en van hul opkomende fondsinsamelingsprojekte sluit ’n gholfdag op 17 Oktober in, ’n Rizpah Tee op 15 November en geskenke toedraai by Highveld Mall vanaf 16 tot 24 Desember.
Vir volgende jaar is daar ’n ‘Amazing Race’ in die beplanning.

Hier volg ’n uitdaging aan die gemeenskap van die stad, kom maak ’n donasie en help dié organisasie wat reeds soveel vir ons kinders in die stad gedoen het.

Hier volg die CMR se bankbesonderhede: Rekeneningnaam:  CMR Witbank, Absa Klipfontein, rekeningnommer: 405 209 4055, takkode: 503 750.

Neem asseblief kennis van CMR Witbank se Algemene Jaarvergadering op 14 Oktober 2014 om 13:00 by die CMR se kantore in 70 Hans Strydomstraat Klipfontein.

As jy meer te wete wil kom oor die CMR skakel gerus 013 692 4870/62/72.

Back to top button