19-jarige sterf op R555

“Jirre, wat het hier gebeur? Vat hierie kênd se hand, hou sy hand baja styf vas en ek bid ook vir sy pa en sy ma.”

Simon Skhosana (56) het sy blou hoedjie eerbiedig om en om in sy hande gedraai en dié kort gebed geprewel by die nuwe kruis wat oor die R555, ook bekend as die Ou Middelburg-pad, waghou.

Om die kruis, ’n paar meter van die drierigting stopstraat skuins na Safari kafee af, verwelk die blomme wat Vrydag 3 Oktober daar neergesit is kort na die ongeluk waarin die 19-jarige Shawn van der Merwe dood is.
Shawn, wat vir sy pa se besigheid Stealth Insleepdienste gewerk het, was op pad na ’n ongeluk toe hyself verongeluk het.
Me. Menette le Grange, ’n passasier van die Honda waarteen Shawn gebots het, het gesê die ongeluk het blitsvinnig gebeur.
“Ek en my vriendin Alicia Tsiaousis was vroegoggend by die lisensiekantore om ’n lisensie vir haar ander motor te kry. Ons was om 08:30 op pad na my huis toe in Blanchville toe die ongeluk plaasgevind het,” het Le Grange gesê.

Sy het gesê hulle was besig om regs in Secondstraat te draai toe Shawn hulle regs voor getref het.
Shawn se ouer broer, Gareth wat agter hom gery het, het gesê sy broer wou ’n kar regs verbygaan  toe hy in me. Tsiaousis se kar vasgery het. Die insleepvoertuig waarmee Shawn gery het, het gerol en op ’n bultjie langs die pad tot stilstand gekom.
Gareth het woordeloos na die kruis gestaar vanwaar sy boetie vir hom geglimlag het.

Sy pa, mnr.  Fanie van die Merwe, wat oomblikke later op die toneel was, het sy seun uit die voertuig gehaal.
Terwyl trane oor haar wange gestroom het, het Shawn se ma, me. Frances van der Merwe verder vertel, “Toe Fanie my bel en sê van die ongeluk het ek op my knieë gegaan en begin bid. Ek weet die Here beskik, ek weet in my hart Hy het my gehoor toe ek aan Hom sê ek plaas my Shawnie in Sy hande.”

Shawn is na Life Kosmos Hospitaal geneem waar hy later dood is.
“Op ongelukstonele vertroos ons die mense wie geliefdes aan die dood afstaan, ons vee hulle trane af en huil ook saam met hulle. Maar as jy klaar op die toneel is, los jy die seer daar en jy gaan huis toe. Môre moet jy vir iemand anders sterk wees op ’n ongelukstoneel en jy leer mettertyd hoe om die hartseer agter te laat. Hierdie keer vat ons die seer saam huis toe,” het Frances skaars hoorbaar gesê.
Sy het haar seun beskryf as ’n ‘pad-engel’ wat altyd daar was om iemand anders te gaan help.

Fanie het vertel Shawn het verlede jaar matriek by Hoërskool Generaal Hertzog geskryf, hy het daarna vir ’n veiligheidsbeampte gaan studeer en sou in Oktober deur Unisa ’n oorbruggingskursus gedoen het.
“Al het hy verder gaan studeer was sy eerste liefde nog die pad en het hy sy passie om mense te help uitgeleef,” het Fanie gesê.

In ’n briefie op Faceboek het die 15-jarige Juanita van der Merwe ’n briefie aan haar boetie geskryf, “My liefste boetie die huis was gister vol mense, maar was so leeg jy was nie by ons nie. Met al ons ‘fights’ en stoeigevegte hoop ek jy weet ek is baie lief vir jou! Niemand kan die seer in ons harte wegvat nie. Boetie ek mis jou glimlag in die huis en jou ‘sense of humour’ wat ons almal se daggies gemaak het. Jy was altyd daar vir my gewees jy was nog so jonk jy wou my ‘sweet 16’ nog vir my reël. Ons het so baie ‘ideas’ gehad. Shawn ek is lief vir jou.”

Voertuie wat op die R555 verby die kruis ry, ry stadiger amper asof die insittendes daarvan ook treur oor die jong lewe wat nog ’n statistiek op die pad geword het.

Die Van der Merwe-familie het gesê hulle is dankbaar vir elke gebed, elke boodskap, elke blykie van vertroosting wat hulle ontvang het.
Shawn se verassingdiens vind Donderdag 9 Oktober om 12:00 vanuit die Nuwe Apostoliese Kerk in Kiplingstraat plaas.
Die besigtiging kan tussen 10:00 en 11:00 by The Funeral Home in Northeystraat gedoen word.

’n Lykskouing is Dinsdag 7 Oktober deur dr. Carel Block gedoen en daar is bevind dat Shawn aan veelvuldige beserings dood is.

Exit mobile version