Foto’s teen die muur

Sy is die ma van vele – ja, baie van hulle is aangetroude kinders, maar meeste van hul noem haar steeds ‘Mammie’.

Tannie Cecile kyk na die foto’s teen haar muur. Daar is soveel herinneringe van geluk en ook hartseer. Van liefde en die dood…

Sy begin haar verhaal in Breyton, 90 jaar gelede, waar sy gebore is op 7 September 1924 in ’n gesin van 15 kinders. “Ek onthou hoe ek en Ouboet altyd twee kilometers ver gestap het om water by die fontein te gaan haal,” herroep Tannie Cecile dan van haar kinderjare. Sy vertel bietjie van haar ma en baie streng pa. As tweede oudste van die kinders was dit haar plig om vir haar jonger broers en susters te sorg. “Ek onthou ek en my Ouboet moes altyd die water aandra vir die gesin en dan vuur maak. Toe reken ek; nee hy kan maar die vuur maak dan sal ék die water gaan haal,” vertel Tannie Cecile.

“Dis toe hý eendag onder deur die draad spring en my kom help die water dra…” is hoe sy dan Carl Schmahl onthou. “Ons het só vriende geword en van toe af altyd saam gestap terug na my huis.” Tannie Cecile se oë glinster soos sy praat. “Ek onthou die een dag wat ons so huis toe geloop het en grappe gemaak het. Carl het so aan die lag gegaan dat hy nie kon ophou nie – dis toe my pa reken hy hou nie van hom nie omdat hy ‘te veel lag’,” het Tannie Cecile laggend vertel.

Niks (nie eers ’n kwaai pa) kon Carl van sy geliefde weg hou na hy besluit het om met Cecile te trou nie. “In 1939 het ons in die hof getrou, want beide van ons families was maar arm. As trougeskenk het ek twee kussings, vir ons enkelbed, gekry van sy ma en twee koppies van sy pa – ’n koppie was toe nog ’n tiekie werd!”

Tannie Cecile vertel met liefdevolle reverie in haar stem van haar hardwerkende man wat by die spoorweë gewerk het en oor die jare homself in sy werksposisie so opgebou het dat hy vir haar en hul vyf kinders kon sorg en vir hul ’n gemaklike lewe kon voorsien.
Die paartjie het baie rond getrek soos Carl se werk dit vereis het, maar het eindelik toe in Witbank (eMalahleni) gevestig.

In 1980 het Tannie Cecile een van haar vier dogters verloor na ’n tragiese insident. “Sy was swanger met haar tweede kind. Sy moes al vyf maande wees, toe die dokters uit vind dat die babatjie reeds al vir twee maande dood is…” Tannie Cecile vertel moeilik verder hoe hul dogter kort na sy in die hospitaal opgeneem is, oorlede is. Sy en Carl het haar dogter se eerste kind – hul vyfjarige kleinkind, aangeneem om groot te maak.

Sewe jaar na Tannie Cecile haar dogter verloor het, het nog slegte nuus aan haar voordeur geklop… “Carl was alleen die een aand na die kerk – die NG Trappieskerk,” begin sy dan vertel. Die skok toe die Predikant aan die deur geklop het daai aand, was weer op haar gesig geëts soos sy terug dink en herroep. In ’n vrats ongeluk – na ’n gelaaide vuurwapen in ’n vrou se handsak afgegaan het – is Carl geskiet.
Na 48 jaar moes Tannie Cecile afskeid neem van haar Carl wat vir so lank ’n plek in haar hart vol gestaan het.

Sy het eensaam geraak sonder haar maat wat, soos hy altyd haar die emmer water sou help dra het, so ook die las van die lewe saam met haar geskouer het.

’n Paar jaar na Carl se dood, het ’n vriendin Tannie Cecile voorgestel aan Pieter Henning. “Hy was ’n plaasboer en ek wou eers niks met hom te doen gehad het nie,” vertel sy dan en meen dat sy nie gedink het sy sou ooit ’n man soos Carl weer kry nie. Maar dan herroep sy weer duidelik die dag van hul ontmoeting… “Toe ek hom die eerste keer voor die deur sien staan, het die Here vir my gewys: ‘dit is die man saam met wie ek moet wees’.”

Die paartjie was vir mekaar bedoel en drie maande later is hul toe getroud.
“Dié man het my op sy hande gedra!” meen Tannie Cecile met ’n glimlag wat op haar mondhoeke speel. Sy het hom ‘Bokkie’ genoem, omdat hy vir haar nog altyd ‘soos ’n bokkie gelyk het’. Die paartjie het verhuis na Pieter se plaas tussen Middelburg en eMalahleni waar hul vir ’n paar jaar gebly het. Na ’n aanval op die plaas het Tannie Cecile egter gemaan dat hul moes trek. “Dit was ’n hartseer tyd vir beide van ons om die plaas op te gee,” vertel sy. Pieter wou sy Cecile net gelukig maak en het beloof dat hy vir haar ’n huis sal kry waar sy veilig kan wees. “Ek onthou nog hoe het hy vir my gesê: ‘Ek het jou in ’n huis gekry en so sal ek nou weer vir jou ’n huis gee…’.”

Vir meer as 11 jaar was Tannie Cecile en haar Pieter onafskeidbaar.
In die jaar 2001 het alles weer tot stilstand gekom toe Pieter gediagnoseer is met limfklier kanker…
Tannie Cecile word weer stil soos sy onthou hoe hul haar ‘Bokkie’ in die hospitaal opgeneem het en sy 11 dae later alleen terug gekom het na hul huisie wat leeg gestaan het sonder hom.

Tannie Cecile kyk nou na al die foto’s teen haar muur in die leefarea van haar huis waar sy nou nog woonagtig is.
Daar is baie hartseer stories agter die stil gesigte in hul rame…

Tog kan Tannie Cecile weer glimlag as sy ook die goeie herinneringe van die dae saam met haar geliefdes herroep.
Tannie Cecile is lewende bewys dat mens altyd weer geluk kan find as jy daarna streef en soek.
In 2007, op die ouderdom van 83, is sy weer getroud.

Willie Faure sit nou saam met haar op die rusbank. Hy hou haar dop met baie deernis in sy oë terwyl sy haar geskiedenis deel.
In die sewe jaar wat hul nou saam is het hy ook sy plek in Tannie Cecile se hart en in ’n paar foto’s op die muur.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version