CrimeNews

Beroof, gekaap en gestrand gelaat

Terwyl ’n man gelê en slaap het, is hy deur ’n harde geluid uit sy slaap geruk.

Die man wat in Klarinet Uitbreiding 3 woonagtig is, het vertel dat die geluid wat hy Vrydag 15 Augustus omstreeks 01:00 gehoor het, die deur was wat van buite af geskop word.

By nadere ondersoek is hy begroet deur drie mans, waarvan twee gewapen was, een met ’n vuurwapen en die ander een met ‘n panga.
Die drie verdagtes het geld geëis van die slagoffer en toe hy vir hulle sê dat hy nie enige geld op hom het nie, het hulle voortgegaan om die huis te deursoek en deur al sy besittings gekrap.

Die onbekende mans het ‘n selfoon, ‘n paar Rand kontant en die man se motorsleutels gevat.
“Hulle het my uit die huis na my kar, wat ek langs die huis parkeer het gesleep,” het die man gesê.

Hy is daarna in die kar ingedwing waarna die mans met hom gery het tot by ’n oop veld naby Paxton Korrektiewe Dienste. Hiér het hulle hom afgelaai en verder gery.
“Ek het begin huis toe stap in die middel van die nag. ’n Polisie-vangwa het verbygery gekom en ek het hulle gestop. Dié mense het my polisiestasie toe geneem om die saak aan te meld,” het die man vertel.

Die Witbank Trio Misdaad-eenheid is van die voorval in kennis gestel om op die uitkyk te wees vir die voertuig.
Die voertuig is die volgende oggend verlate in Klarinet Uitbreiding 8 gevind.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Back to top button