CrimeNews

Vrou (56) in huis aangeval

Sy het meeste van die nagmerrie uitgeblok – haar geheue skoongevee. Maar daar is steeds dinge wat bly... beelde wat haar angstig maak en die wonde aan haar lyf wat rooi merke los as wrede herinnering.

“Ek kan rêrig nie veel onthou nie,” het die 56-jarige gesê, terwyl  sy onbewustelik oor die merke onder haar nek vryf.

Dis meer as ’n week gelede, op Sondag 3 Augustus, toe sy in haar huis in Reynorif aangeval en beroof is. “Ek het hier onder gesit,” verduidelik sy waar sy in die leefarea sit. “Toe ek ’n slag hoor bo naby die kamer.” Na ’n tweede groot slag vertel die vrou het sy opgegaan na haar kamer op die tweede vloer om te gaan ondersoek instel.

’n Onbekende man, wat vermoedelik toegang verkry het tot in die huis deur die badkamervenster, het haar in haar slaapkamer verras en aangeval. “Hy het my gegryp, my hande agter my rug vasgehou met sy een hand en met die ander my mond toegedruk,” onthou sy dan. Die res van die gebeure vervaag en die vrou herroep hier en daar oomblikke soos dat die man haar gesny het met ’n mes…

“Ek vermoed hy het my probeer verkrag,” vertel sy. Haar stem breek terwyl sy verduidelik hoe die verdagte haar broek en in die proses ook haar bene gesny het. “Ek moes my bewussyn verloor het of dit net uitgeblok het,” het sy verder vertel. Die snye, meestal op haar bene en bors, vertel meer van die wrede aanval.

“’n Mens kannie dink in daai oomblik nie. Ek het vir myself gesê om te skree, maar ek kon nie ’n geluid maak nie,” vertel die vrou terwyl sy haar kop skud. Dis ’n genade dat haar seun, wat langs haar in die erf bly, op daardie oomblik besluit het om te kom inloer. “Die hek maak ’n lawaai as iemand dit oop maak,” verduidelik die vrou verder.

Haar aanvaller het toe besluit om te vlug en ‘klein’ waardevolle items gegryp waarmee hy terug uit die badkamer venster geglip het.
“Hy moes seker saam met iemand gewerk het,” beweer die vrou dan. “Hy het van my man se elektriese toerusting gevat, wat hy sekerlik vir iemand deur die venster moes aangee.”

Die verdagte het ook die vrou se sleutel gevat vir haar voertuig, maar is toe sonder die motor daar weg.
Die vrou se hande bewe effens soos sy nog probeer onthou. Die man wat sy beskryf het as lank en ‘gelerig’ het ’n oranje oorpak aangehad.
Die mes waarmee hy haar aangeval het is later naby ’n boom in die erf ontdek. Die vrou meen dat die verdagte die boom kon gebruik het om oor die muur te klouter.

Die vrou voel steeds angstig na die aanval. Ekstra sekuriteit gee haar ook nie veel gemoedsrus nie.
Inwoners in Reynorif word gemaan om ook op die uitkyk te bly vir verdagte persone wat moontlik huise dophou.

As deel van die Vrouemaand inisiatief is dit ook van groot belang vir die polisie om misdaad teen vroue te bekamp en vra dat die gemeenskap moet saam staan en hul help om die verdagtes te identifiseer.

Back to top button