NewsSchools

HTS landsdieners deur na nasionaal

’n Rekord getal leerlinge van die Hoër Tegniese Skool is gekies om Mpumalanga Landsdiens te verteenwoordig by die Nasionale-byeenkoms in die Wes-Kaap in Desember.

Die leerlinge het baie goeie leierseienskappe getoon en is ware ambassadeurs van die skool.

Hulle het die afgelope vakansie van 2 tot 6 Julie gaan kamp by Kruisrivier net buite Loskopdam. Hulle het hard gewerk, en net so hard gespeel. Hulle het geverf, rivier skoongemaak en elke aand aan lofprysing deelgeneem.

Elke landsdiener se hart was groot en het gehelp met die uitreik na Rustenburg met blikkies kos en basiese benodighede, en jarelange vriendskappe is gebou.

Die landsdieners het ook Mbidi Lodge besoek en almal het ’n naby ervaring gehad met die Leeus en ander wilde diere. Daar was ook een groot kleurontploffing by die kampterrein tydens die “colour fest”.

Landsdiens is hierdie jaar ’n volle 100 jaar jonk. Die Eeufees vind Desember plaas by Jonkershoek in die Wes-Kaap en HTS Witbank het sewe leerlinge wat saam gaan kamp. Lee Ferreira is aangewys as Mpumalanga se senior leier en Quiniel Piek as die junior onder-leier.

HTS se verteenwoordigers vir die Mpumalanga-span is Nadine van der Walt (reserwe), Michael Bezuidenhout (reserwe), Ciska Brink, Quiniel Piek (junior onder-leier), Dewald Jacobs, Cameron de Wet, Lee Ferreira en Danica Degenaar.

Back to top button