Doves tree op na nalatigheid

Die tweede liggaam wat eenkant in die yskas op die lykstrollie gelê het tydens WITBANK NUUS se besoek aan Doves Begrafnisdienste is geïdentifiseer.

Wyle mnr. Casper du Plooy is op die ouderdom van 83 op Vrydag 4 Julie aan ’n hartaanval dood.
“Ek is ontsteld oor die manier waarop my skoonpa daar lê. Wat het geword van menslikheid. Hy is nie eers behoorlik toegemaak nie,” het mnr. Phillip Hattingh, Du Plooy se skoonseun gesê

Hy het gesê die personeel by Doves het gedraai met die vorms.

Hattingh het gevra of hy Du Plooy se as voor die roudiens Vrydag 11 Julie kon kry. Hy wou sy skoonpa se as in die kerk sit.
“Ek was omtrent senuweeagtig, want soos hulle voete gesleep het, was ek oortuig dat skoonpa se as nie betyds vir ons gegee gaan word nie,” het Hattingh gesê.

Moedeloos het hy Dinsdag 8 Julie aan WITBANK NUUS vertel dat hy nie meer weet met wie om te praat oor die reëlings nie omdat die personeel by die begrafnisdiens té onbevoeg is om hom te help.

Gelukkig was Du Plooy se as toe betyds voor die roudiens vir die familie gee, maar die begrafnisblaadjies was verkeerdelik gedruk.
“Hulle moes vinnig Vrydagoggend weer blaadjies oordruk nadat ek verskeie foute aan hulle uitgewys het met die eerste blaadjies. Toe ek die blaadjies die middag ontvang was ek woedend want selfs die gesange was verkeerd gedruk,” het Hattingh gesê.

WITBANK NUUS het die foto’s wat hulle van Du Plooy geneem het aan mnr. Okkie du Toit van Doves gestuur en hy het soos volg gereageer, “Ons is nie tevrede met die manier waarop die personeel die oorledene behandel het nie. Ons is besig met ’n interne ondersoek na die aangeleentheid. Dit is in sulke gevalle waar ons geen verdraagsaamheid toon vir nalatigheid en swak dienslewering deur enige lid van ons personeel nie.”

Du Toit het ook terugvoer gegee na die voorval waartydens vriende van ’n oorledene self sy kis moes bou en hom voorberei vir sy begrafnis.

Mnr. Johan Roets, wat Sondag 29 Junie ook aan ’n hartaanval dood is, se liggaam was nie gereed vir sy begrafnis nie.
Me. Lizet Roets, Roets se weduwee het gesê sy het vooraf met Doves gereël dat die lykskouing om 14:30 die roudiens om 15:00 sou voorafgaan.

Die mense wat hul laaste eer aan Roets wou bewys het na 15:00 op Vrydag 4 Julie kriewelrig geraak omdat Roets se liggaam nog nie by die NG Kerk Vallei aangekom het waar sy roudiens gehou is nie.

Sy het van Roets se vriende, waaronder mnr. Bruce Kirton, gevra om te gaan kyk wat die oponthoud by die begrafnisdiens was.
“Ek was heeltemal geskok toe ek by die begrafnisondernemer aankom. Johan was nog nie eers gewas, voorberei of aangetrek nie. Ek het my vriend gewas en met die hulp van twee ander vriende het ons hom aangetrek,” het Kirton gesê.

Daarna moes hy nog help om Roets se kis aanmekaar te kry, dié was nog nie eers gedoen nie.
Na die traumatiese ondervinding met die begrafnisdiens het hulle nog steeds geweier om Roets te laat veras omdat daar gelde uitstaande was.

Me. Roets moes die Sondag van Roets se dood ’n ander begrafnisdiens se hulp inroep om Roets se liggaam te kom haal omdat Doves na ses oproepe nie hul bystand telefoon geantwoord het nie.

Hulle het Roets se liggaam die volgende oggend by die ander begrafnisdiens gaan haal en moes R700 opdok omdat die ander begrafnisdiens Roets se liggaam gaan haal het.
“Ek het die geld uit ons kleinkas betaal en soek die geld terug,” het ’n baie ontevrede ontvangsdame net bekend as KB gemor.

Toe me. Roets na die roudiens weer gaan navraag doen oor die verassing het KB geweier om haar te help tot die R700 betaal is.
“Hulle het nie hul bystand-telefoon geantwoord nie en moes ons wag tot hulle eendag besluit om op te daag. Dit is hul eie nalatigheid,” het me. Roets gesê.

Terwyl me. Roets by Doves was om die sakie uit te sorteer is sy daar deur Du Toit ontmoet wat verskoning gevra het.
Hy het aangebied om me. Roets tegemoet te kom en het haar gehelp met die finale reëlings van Roets se verassing. Roets is Saterdag 12 Julie veras.

Du Toit het gesê daar is ook ’n interne ondersoek aan die gang oor die Roets voorval.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version