Goue oues vertel …

Tannie Marie sit nie een oomblik stil nie

Mens is waarlik geseënd as jy met vyf geslagte kan spog. En Tannie Marie Roux het rede om te spog wanneer sy oor haar vyf geslagte begin gesels.

Sommer met die intrapslag het sy nederig gesê, nee sy is nie ’n matriarg nie, vir haar nageslagte is sy net Ouma Marie.
Tannie Marie het ’n paar minute in haar besige skedule ingeruim om bietjie oor haar nuutste projek te gesels.

Vir dié 93-jarige se hande staan daar niks verkeerd nie, en sy woeker met haar naaimasjien. Sy werk op ’n Empisal naaimasjien wat al 50 jaar oud is. “Hierdie masjien is ’n staatmaker, hy kan zig-zag en reguit werk.”

Sy maak die meeste van haar eie klere, gordyne, tafeldoeke noem  maar op en nou maak sy ook kussingslope vir mense met Alzheimers.
“Hierdie is so ’n lekker projek,” het Tannie Marie vertel terwyl sy liefderik oor die kussingsloop streel.

Dié kussingslope het ’n ritssluiter, knope, ’n veter en verskeie teksture, om die wat aan Alzheimer lei, te stimuleer. Dit leer hulle om die ritssluiter op te trek, die knoop en ook die veters vas te maak, terwyl hulle die verskillende teksture kan voel.

Tannie Marie het vertel dat haar ma ’n kleremaakster by uitstek was, maar dat syself maar baie teësinnig was om te leer.
Sy is in die Oos-Kaap, daar in Dordrecht gebore. In 1939 het sy saam met haar ouers na Johannesburg verhuis waar sy haar toekomstige man, Chris Roux ontmoet het.

“Ek en Chris se skoonsuster het saamgewerk. So het dit gekom dat sy my een aand genooi het vir ’n braai en dis waar ek my sielsgenoot ontmoet het,” het Tannie Marie vol heimwee vertel.

Dit was nie lank voordat Oom Chris die jawoord gevra het nie.
Die egpaar was 34 jaar lank getroud toe Oom Chris in 1992 oorlede is.

Tannie Marie het sagkens oor die verslyte trouring aan haar ringvinger gevryf en gesê sy is al 22 jaar lank ’n weduwee: “Die ring sal aan my vinger bly tot ek die dag gaan slaap.”

Witbank, soos die dorpie destyds bekend gestaan het, voor dit ’n stad geword en later na eMalahleni herdoop is, is die afgelope 50 jaar Tannie Marie se tuiste.

“Ons het net hieronder gebly,” het sy na die sentrale besigheidsarea gewys.
“Ai, die dorp het uitgebrei en vandag is dit ’n trotse stad. Daar is soveel meer uitbreidings en besighede. Werksoekers trek voordeel, want daar is soveel meer werksgeleenthede,” het sy gesê.

Tannie Marie glo nie aan albums nie, want sy sê die verniel en foto’s gaan verlore. Maar teen haar mure glimlag die mense vir wie sy so baie lief is, vanuit fotorame.

“Ek is nooit sonder iets om te doen nie. Inteendeel, ek dink partykeer ek kan nog so ’n paar ure ekstra in my dag inprop.”
Behalwe vir die naaldwerk, brei en hekel Tannie Marie ook.

“Ons brei en hekel babaklere en kombersies wat die Trappieskerk een keer ’n maand vir mammas wat dit nie breed het nie, in Witbank Hospitaal gaan afgee.”

Dis wanneer Tannie Marie oor haar nageslagte begin gesels dat die liggies behoorlik in haar oë skyn, “Ek het vyf kinders gehad. Twee is oorlede. My twee seuns Daniël en Willem bly in Pretoria en my dogter, Wilma Grobler woon in Middelburg.

Ek is Liewe Jesus se oogappel, Hy het my geseën met kleinkinders, agterkleinkinders en ook agter-agter kleinkinders. Vyf geslagte, ja ons is vyf geslagte wat kan getuig van die Heer se genade.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version