CrimeNews

Gemeenskap neem reg in eie hande

’n Man wat daarvan verdink word dat hy verantwoordelik was vir hondervergiftigings en inbrake is verlede week dood aan ernstige beserings nadat hy deur lede van die gemeenskap gevang en aangerand is.

Donderdag 5 Junie het ontstoke inwoners die reg in eie hande geneem toe hulle die verdagte in Choirstraat, Tasbetpark 2 betrap het met gesteelde goedere.

“Twee verdagtes het by ons bure, langsaan, ingebreek,” het ’n inwoner vertel. Daar was bewerings van nog inbrake in dieselfde straat waar die een verdagte toe voorgekeer is.

“Ons honde het so aan die blaf gegaan en ek het geweet dis nie sommer vir niks nie,” het die inwoner verder die middag se gebeure onthou en vertel hoe sy die twee verdagtes gesien het oor hul bure se muur spring.

Die verdagtes is daarna agternagesit deur lede van die gemeenskap en een is gekeer voor hy verder kon vlug. Hy was in besit van ’n selfoon, wat een van die inwoners kon identifiseer as ’n gesteelde item. Die man het ook ’n leë pistool, R5 ammunisie en Two-Step (Temik) gif by hom gehad nadat hy deursoek is.

Na die Two-Step, ’n bekende en dodelike gif vir diere, by die man gevind is, is die plaaslike Dierebeskermingsvereniging (DBV) ook in kennis gestel. Met die onlangse hondevergiftigings deur die loop van verlede week, is meer as 10 honde vergiftig in Tasbetpark 2. Inwoners is van mening dat die man wat aangekeer is beslis een van die mans is wat verantwoordelik was vir die vergiftigings.

“Dié twee het al vir die afgelope paar dae hier in die strate rondgehang – seker om te kyk waar hul kon inbreek,” het nog ’n inwoner vertel en gesê dat die mans reeds ’n vorige keer opgemerk is in die area.

Die polisie het, na die ontstoke lede van die gemeenskap die verdagte aangerand het, opgedaag en die man is na Witbank Hospitaal geneem vir behandeling. Hy is Vrydag 6 Junie in die hospitaal dood.

“Ons is moeg… siek en sat vir al die kriminele wat maak wat hul wil en dan daarmee weg kom! As hul nie wil leer nie, moet hul voel!” was die gevoel van menige inwoners.

Video van die verdagte (na hy in Witbank Hospitaal opgeneem is)

* Sien die video ook hier.

Back to top button