Local newsNews

Biltong, blink oë en liefde

Wilna Botha van R5 Price Beat het onlangs ’n R70-koopbewys van ’n slaghuis in Middelburg gekry.

Sy het Immergroen daarvan gesê, maar die geld het bly lê.

Toe vra sy vir ’n tannie van Immergroen: “Waarvoor het tannie regtig lus?”  “Oe,” het die tannie gesê: “’n stukkie biltong sal darem baie lekker smaak.”

Wilna het van haar eie geld by die R70 gelas en vir iedere inwoner van Immergroen ’n R10-pakkie biltong van Middelburg af bestel. Dit het sy op Sondag 1 Junie gaan afgee, saam met die sakgeld en toiletware aan die inwoners wat daarvoor kwalifiseer.

Drukkies, soentjies en “baie-dankies” het die lug volgehang. Van die oues van dae kon nie eens onthou hoe biltong smaak nie.
Aan die werkers, uit haar eie sak, het sy skyfies uitgedeel. Wanneer die liefde vloei, vloei hy breed.

Ja, dit was ‘n groot werk om al die inwoners ná 13:00 op ’n Sondag op te spoor. Party het geslaap, party het gekuier, party het nie gehoor nie. Wilna en haar span van nege vrywilligers het meer as twee ure op en af gestap, waentjie gestoot en pakke gedra, om almal in die hande te kry.

Maar dis ’n lekker werk, want waar Wilna en haar mense beweeg, is die liefde  tasbaar. Dis drukkies en soentjies en “ons het na julle verlang”.
Tannie Sannie Booysen het uit die hart oor Wilna gepraat en gesê: “Sy is die ligpunt in my lewe.” As sy so praat, praat sy namens al die oumense van die dorp wat so mildelik uit Wilna se hand ontvang, ook met Kersfees.

Die slagter van Middelburg het miskien ook die oumens-liefdesvirus opgedoen.

As jy wil deelneem aan die sakgeld en toiletware projek, skakel Wilma: 082 440 5043 of lees meer hier.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Back to top button