Meer honde vergiftig

Sy onthou nog duidelik die honde se tjank en blaf… haar hond op die tafel waar die veearts haas om dié dier te red.

In die vroeë oggendure stroom nog mense in by die dierekliniek met groot en klein hondjies in hul arms, vir sommiges is dit egter klaar te laat.

Meer as 10 honde is verlede week vergiftig in Tasbetpark 2, Reynorif en Uitbreiding 16 omgewings.

Inwoners van Tasbetpark 2 het Vrydag 30 Mei ‘n poging tot inbraak gerapporteer kort na ‘n reeks vergiftigings plaasgevind het.

Een van die inwoners en hondeienaars, me. Sisra Botha, het die gebeure herroep en vertel hoe sy en haar bure gehaas het na die Klipfontein Dierekliniek in die vroeë oggendure, na hul die verdagte hondevergiftiger(s) verjaag het.

“Dit was twee dae terug wat die honde in ons straat so aanhoudend begin blaf het,” het Botha vertel. Sy onthou hoe sy wakker geword het die Vrydagoggend en ‘n verdagte man in haar erf gewaar het. “Ek het by die venster uitgekyk en hom gesien – besig om die hek van die spoor af te haal.”

Botha vertel hoe sy die verdagte verjaag het en die buurtwag gekontak het wat die man toe agterna gesit het.

Afgesien van die skade wat aangerig is na die verdagte kragdrade afgesny en die elektriese omheining beskadig het, is Botha se drie honde ook vergiftig. Twee van die honde is na Klipfontein Dierekliniek geneem waar hul gered kon word, maar Botha se ouer Pekingese hondjie is vinnig dood na hy die dodelike Two-Step gif ingekry het.

“Hulle (verdagtes) het die Two-Step gif in polonie gesit wat hul vir die honde gegee het,” het Botha verder vertel.

Altesaam nege honde is deur die loop van die oggend na die dierekliniek geneem. Drie van die sowat 11 honde wat vergiftig is, is dood.

“Die buurtwag het ons so bygestaan en gehelp om van die honde by die veearts te kry,” het Botha gesê. Me. Mpho Mokoena, inspekteur van die plaaslike Dierebeskermings Vereniging (DBV), het gesê dat dit een van die grootste reeks hondevergiftigings is, wat in een dag se tyd by hul aangemeld is.

‘n Saak van opsetlike beskadiging van goedere was ook by die Witbank Polisie stasie aangemeld en word tans ondersoek.

Exit mobile version