Oues word lekker bederf

Na hul baie suksesvolle Poker Run het die Private Riders Motorfietsklub besluit om die oues van dae ’n bietjie te gaan bederf.

Saterdag 16 Mei was die rustigheid by Immergroen Ouetehuis ‘versteur’ deur die gebrul van motorfietse.

Maar die klub het nie met leë hande gaan kuier nie, hulle het dadelik aan die werk gespring en die inwoners van die ouetehuis bederf met koeldrank, sjokolade, blomme en ’n heerlike worsbraai.

Inwoners van die ouetehuis het die kans gekry om na die pragtige ysterperde te gaan kyk en hulle het ywerig staaltjies van hul eie gedeel oor hul jong waaghalsige dae op hul motorfietse.

Mnr. Tinus Grobler het ’n ‘noodhulptassie’ aan die motorfietsklub geskenk.
“Hou die ‘noodhulptassie’ vol en as daar iets gebeur en julle moet stop is daar darem ’n knertsie om die ysige koue te verdryf,” het hy gesê.
Die motorfietsklub het ook mildelik bygedra tot die ouetehuis se sakgeld-projek. Hulle het sakgeld aan vyf bejaardes gegee.

Dié idee het gekom nadat die klub gehoor het dat by Immergroen Ouetehuis is daar ’n groot aantal inwoners wat sukkel om kop bo water te hou. Die pensioenverhoging van R80 wat hulle onlangs ontvang het is reeds te min om hul maandelikse losies te betaal. Geld vir toiletbenodighede is daar nie en sakgeld is net ’n droom.

Daarom het vrywilliger by Immergroen Ouetehuis, me. Wilna Botha ’n projek begin om die 56 inwoners wat werklik sukkel te probeer help.
Die Sakgeld-projek behels dat jy een van hierdie bejaardes ‘aanneem’ vir ’n minimum tydperk van ses maande. Jy borg dan ’n minimum van R100 per maand waarmee toiletbenodighede aangekoop word en iets lekkers deur die maand.

As jy voel jy kan meer bydrae of meer as een persoon ‘borg’ sal dit baie help. Daar is ook klaar opgemaakte toiletbenodighede-pakkies teen R50 en R100 per pakkie wat by die R5 Price Beat Store aangekoop kan word.

Daar is 13 inwoners in die selfsorg-afdeling, 26 in die siekeboeg-afdeling en 17 inwoners in die 24-uur versorg-afdeling waaruit jy ’n naam kan kies.

Skakel gerus vir Wilna vir ’n naam: 013 692 5981. Bydraes kan by haar inbetaal word elke maand of jy kan dit direk in Immergroen Ouetehuis se rekening inbetaal: SAVF Tehuis, Absa rekeningnommer: 1360 410 028. Gebruik die verwysing ‘sakgeld’ en die persoon se naam wat jy borg.

Norman en sy klublede bedank almal wat by die Poker Run was, want sonder die ander motorfietsklubs se ondersteuning sou hulle nie die inwoners van Immergroen kon bederf nie.

“Baie dankie aan Super Servings wat die wors vir die dag gegee het. Aan elkeen wat ’n bydrae gemaak het, baie dankie dat julle vandag ’n glimlag op ’n bejaarde se gesig gesit het,” het Norman gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version