Local newsNews

‘Gerye, ons engeljie van God’

Die agt-jarige seuntjie lê op sy bed. Buite speel kinders rugby, hardloop rond en ry fiets en hy wens dat hy saam met hulle kan speel.

Maar, Gerye Ludeke is te swak om enige dinge te doen wat ander kinders elke dag doen. Hy is verlede jaar gediagnoseer met breinkanker wat nou in ’n gevorderde stadium is.

Terwyl me. Dalene Luduke, Gerye se ouma, gesels oor haar kleinseun se stryd, kom ’n klein stemmetjie uit die kamer:  “Ouma kom gou hier.”  Sy staan dadelik op om te gaan kyk wat Gerye soek.

Gerye is op 24 September 2005 gebore. Hy was ’n gesonde baba, vol lewe.
Hy begin sy Gr.R jaar by Laerskool Kragbron en geniet dit om na stories te luister en oor alles te gesels. Hy gaan later ‘groot’ skool toe, waar hy fluks vorder.

Maar, dié jong lewetjie verander toe Gerye in 2012 val en sy ma, Yvonne, hom dokter toe neem. Hiér vind die dokter dat ’n abses in Gerye se brein gevorm het.

Op 5 Oktober 2012 gaan hy vir ’n breinoperasie, die eerste van ’n paar wat daarna volg.
In Januarie 2013 is hy vir ’n opvolg skandering, maar die nuus was nie goed nie. “Die dokters het gesê dit lyk soos riviere binne sy brein,” het Dalene vertel.

In Februarie stel dokters vas dat daar vier gewasse op die brein is en op 22 Februarie volg sy tweede breinoperasie.
Gerye word in Maart gediagnoseer met graad vier kanker. “Die dokters het hom net 18 maande gegee om te leef,” het Dalene met trane in haar oë gesê.

Tussen Mei en Julie verlede jaar het hy 33 bestraling-sessies deurgegaan en dit het goed met die jongman gegaan, maar die beterskap was van korte duur, want in Desember word Gerey weer baie siek.

In Januarie vanjaar is Gerye terug na die dokter waar ’n skandering getoon het dat die kanker baie ernstig is.
“Die dokters het vir ons gesê dat hy omtrent net twee maande oor het om te leef,” het Dalene gesê.

Drie en ’n halwe maand verder stel die dokters vas dat daar nou sewe gewasse, almal omtrent 6.1cm groot, op die brein het.
“Die linkerkant van sy brein het al 3cm oor sy regterbrein gegroei. Hy kry geweldige hoofpyne, het nou begin blind word en hy sukkel om te loop. Hy kry morphine-plakkers om die pyn te verlig,” het Dalene gesê.

Dalene werk van die huis af om bedags by haar kleinseun te wees, terwyl Yvonne werk om die pot aan die kook te hou.
Die medisyne is baie duur. Gerye dra ook nou doek.

Op Saterdag 24 Mei hou die kragbootklub ’n fondinsameling vir hom by Barham Bay. Die gemeenskap word gevra om dit te ondersteun, sodat dié jongman gemaklik kan wees.

“Ek lees vir hom Bybelversies om lewe oor hom uit te spreek. Gerye is my engelkind en hy is baie spesiaal vir ons. Op dié stadium bou ons herinneringe saam met hom,” het Dalene hartseer gesê.

One Comment

  1. He was a little angel. there was just something diffferent about him. Right up until he passed away on 5 June 2014. Even in his last couple of days if you told him you loved him, he would reply “lief vir jou”. it just breaks a persons heart when young children are taken away from us when their lives has just started. He had so much to live for! Gerye you will always be a special little boy in our hearts. Your auntie Mabel

Back to top button